Ek het in ’n erediens gehoor van die boek The Meaning of Jesus – Two Visions deur Marcus J. Borg en N.T. Wright, in 1999 deur HarperCollins uitgegee.
Die dominee het vertel van dié twee beroemde teoloë met uiteenlopende standpunte wat saamgesels oor hul raakpunte en verskille. Kan ander “behoudende” en “moderne” Christene dan nie ook in vrede saampraat nie? was die trant van die dominee se preek daardie oggend.
Marcus Borg het ’n Lutherse agtergrond. Hy is ’n professor in godsdiens aan die Universiteit van Oregon en is ’n bekende en invloedryke stem in die progressiewe Christendom.
Tom Wright kom uit ’n konvensionele Anglikaanse kerkverband in Engeland en was die biskop van Durham. Sy vertolking van Jesus se lewe en betekenis is meer tradisioneel fundamentalisties.
Die kernboodskap van die boek is: hoe om alle Christene, veral ook dié wat nuut oor godsdiens dink, in die ou gevestigde tradisie van die kerk tuis te laat voel.
Borg en Wright stem saam dat Jesus Here, of Christus (gesalfde, uitverkorene) was. Dat Jesus dus meer as net ’n politieke aktivis was, word bewys deur die feit dat hy die sentrale figuur van Westerse godsdiens geword het, tot vandag toe.
’n Belangrike vertrekpunt in die boek is die moderne mens se beperkte siening van “dit” wat is. Waarheid is verskraal tot bewysbare feite, en geloof en godsdiens pas nie daarby in nie. Tog, sê die skrywers, gebeur merkwaardige goed wat ons nie verstaan nie, vandag nog. Realiteit is meer misterieus; daar is behalwe “dit” ook “meer as dit” – “die heilige”.
Wright voel dat die evangelies die regte historiese beeld van Jesus skets, terwyl Borg meen dat metaforiese vertolkings, indrukke van wat moontlik gebeur het, bygevoeg is. Hoewel nie letterlik waar nie, kan dit tog kragtig waar wees in ’n nie-letterlike sin. Dit is hoe die Christelike beweging in die eerste eeu Jesus se lewe, dood en opstanding ervaar het.
Vir Wright is die opgestane Jesus een met die menslike Jesus – dié persoon wat op aarde sy heilige dade verrig het en toe uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het.
Vir die postmoderne Christen wat dit moeilik vind om so ’n historiese mens-god as geloofwaardig te aanvaar, stel Borg twee beelde voor vir die naam Jesus: ’n Jood uit die eerste eeu – hy is dood en weg. Maar ook die opgestane Christus wat steeds in die Christelike tradisie as “lewend” ervaar word. Borg noem dié twee “voor-Paas-Jesus” en “na-Paas-Jesus”.
Hoewel albei skrywers die opstanding van Jesus as die sentrale gebeurtenis in die Nuwe Testament sien, verskil hulle oor ’n fisieke opstanding. Vir Wright is dit ’n historiese feit, terwyl Borg voel dat dit metaforiese vertellings deur Jesus se volgelinge is. Vir hulle was dit asof Jesus nog by hulle was.
Vir Borg is Jesus se kruisiging eerder ’n kragtige simbool van God se liefdevolle genade as ’n offerdood. So ook dat Jesus self nie gedink het hy is goddelik nie, maar dat die “na-Paas-Jesus” ’n simboliese realiteit van God se Gees kan wees.
Ook vir die moderne Christen-gelowige vereis om kontak met God te maak gereelde aanbidding, en dit kan steeds in die bestaande kerklike samesyn en tradisies gedoen word. Om die geloofsbelydenis hardop te sê beteken nie dat jy dit as letterlik waar onderskryf nie. Die gelowiges van daardie tyd het dit so verwoord om die realiteit van God en die plek van Jesus te erken.
Ten slotte stel Borg voor dat die evangelies en die Bybel in ’n staat van “post-kritiese naïwiteit” gelees word. Dit is verby die naïwiteit van kinders en die kritiese denkwyse van grootmense. Dan word die verhale van die Christelike tradisie weer as werklike stories gehoor en besef jy dat hoewel die feite nie noodwendig geskiedkundig waar is nie, dit simbolies waar kan wees.
DR. RENIER HOLTZHAUSEN