Gavin Prins in Johannesburggprins@rapport.co.za
Amor Vittone glo Joost van der Westhuizen het ’n verhouding met die dokter wat die laaste paar maande die steunpilaar is in dié oud-Bok se stryd teen ’n dodelike motorneuronsiekte (MNS).
Die eertydse glans-egpaar is besig om te skei.
Op sy beurt beskuldig die sieklike Joost in die jongste uitgawe van Huisgenoot vir Amor van ’n rits buite-egtelike verhoudings. Hy het haar en ’n “Afrikaanse sanger” glo in ’n omhelsing betrap.
Amor ontken dit en het gister in ’n eksklusiewe onderhoud met Rapport teruggekap.
Sy sê haar vermoedens van ’n verhouding tussen Joost en sy neuroloog, dr. Jody Pearl, is versterk deurdat dié twee verlede naweek saam gaan kamp het.
Pearl is verlede jaar geskei. Sy was middel verlede jaar alleen saam met Joost in Amerika toe hy in Cleveland, Ohio, behandel is.
Joost het aan Rapport erken hy hét saam met Pearl gekampeer.
Volgens Amor het hul dogtertjie Kylie (5) aan haar gesê hulle het “in die bos” gekampeer. Kylie het glo gesê sy het ’n “kameelperd” gesien en dat “dadda en die tannie” in een tent geslaap het.
Maar Joost sê dit was ’n kamma-kamma kampeerdery in die tuin van Pearl se huis in Sandton. Hulle het dit bloot gedoen vir die kinders se onthalwe, sê hy.
“Niks onbehoorliks het gebeur nie. Dis net omdat Jody ’n sexy dokter is, nou is almal gou om te sê daar is iets tussen ons.”
Joost sê Pearl se ouers en broer en haar kinders het saam in die buitelug geslaap.
“Daar was drie tente. Die een was vir die seuns waarin ek en haar broer ook geslaap het, die ander vir die dogters waarin Jody geslaap het en die derde was vir haar ouers.”
Mnr. Selwyn Shapiro, Amor se prokureur, sê dit sou hoogs onvanpas wees vir Joost om ’n verhouding met Pearl aan te knoop omdat sy Amor ingelig moet hou oor die oud-Bok se gesondheidstoestand.
“Dr. Pearl moet my kliënt op ’n gereelde basis adviseer oor die welstand van haar man.”
Amor sê Joost vind dit moeilik om selfs ’n garnaal se dop oop te breek.
“Wat nog te sê om na my kinders om te sien?
“As hulle ’n verhouding het, gaan sy my mos adviseer oor wat tot húlle voordeel gaan wees. Ek móét weet of Joost fisiek sterk genoeg is om na my kinders om te sien wanneer hulle naweke by hom is.”
Shapiro voeg by: “Maar ons sal dít hanteer in die egskeidingsaak. Ek is bewus daarvan dat my kliënt al talle kere probeer het om die egskeiding af te handel.”
(Joost sinspeel in Huisgenoot daarop dat Amor die egskeiding opsetlik uitrek.)
Joost sê ook in Huisgenoot hy het Amor en ’n “Afrikaanse sanger” by hul huis betrap. Geen naam word genoem nie, maar Rapport verneem dit was die Loslappie-sanger Kurt Darren.
Amor het gister erken Kurt was dié aand by hul huis, maar ontken dat sy hom gesoen het.
Sy ontken ook dat sy ’n verhouding met die musikant Tony Campbell gehad het toe hulle met die Sewe Wonders-toer deur die land gereis het.
Kurt het deur mnr. Louis van Wyk, sy bestuurder, gereageer.
“Kurt stel nie belang en gaan nie ingetrek word by die Van der Westhuizens se onophoudelike boksgevegte nie.
“Feit van die saak is, waar kom hierdie totale snert nou vandaan? Onsin en sela.”
Joost sê ook in die Huisgenoot-artikel Amor beskou sy ouers as “kommin”.
Amor sê sy het nie eintlik ’n verhouding met Joost se ouers gehad nie omdat hulle nie so familievas is soos haar ouers nie.