Jacques Steenkamp in Johannesburgjacques.steenkamp@rapport.co.za
Cézanne Visser, wat tans sewe jaar tronkstraf uitdien weens onder meer die seksuele aanranding van jong meisies, gaan dalk binnekort onder korrektiewe toesig vrygelaat word.
Dié voormalige advokaat het sedert 2002 saam met haar destydse minnaar, Dirk Prinsloo, ook ’n voormalige advokaat, landwyd koerantopskrifte gehaal ná hul inhegtenisneming.
Sy staan in die volksmond bekend as “advokaat Barbie” en het nou byna twee jaar van haar vonnis uitgedien.
Prinsloo het midde-in die verhoor landuit gevlug.
Hy dien nou 13 jaar tronkstraf uit in Belo-Rusland ná ’n mislukte bankrooftog daar.
Dr. Llewellyn Curlewis, Visser se regsverteenwoordiger, het Vrydag aan Rapport gesê die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste (DKD), mnr. Tom Moyane, het aanbeveel Visser (34) moet onder korrektiewe toesig vrygelaat word.
Dít danksy haar goeie gedrag en omdat sy gerehabiliteer is, sê Curlewis.
“Sy het haar skuld aan die samelewing betaal. Sy het haar les geleer,” sê Curlewis.
Volgens hom sal Visser buite die gevangenis ’n veel groter ekonomiese bydrae kan lewer.
Curlewis sê Visser is baie opgewonde daaroor dat sy binnekort vrygelaat kan word, maar hy voeg by die proses kan enigiets van ’n maand tot twee jaar duur.
Hy het bevestig dat beamptes van die DKD reeds die huis van Visser se ma, me. Susan Lemmer, besoek het om haar adres te bevestig.
Volgens dr. Johann Lemmer, ’n seksoloog en Visser se eks-stiefpa, moes sy nooit tronk toe gegaan het nie.
“Korrektiewe toesig ná twee jaar is te laat. Sy het nooit die geleentheid gekry om te appelleer nie; dit is sonder rede van die hand gewys. Een man (die landdros) het oor haar lot besluit en klaar. Dit was die grootste onreg in ons land se regsgeskiedenis,” sê Lemmer.
Hy sê die publiek is verkeerd oor Visser ingelig, maar dat alles in sy boek, Advokaat Barbie – Wat regtig gebeur het, beskryf word.
Lemmer het gevra dat Rapport dié berig terughou, want hulle is bang die berig kan moontlik Visser se aansoek om parool skade doen.
Mnr. Phumlani Ximiya, waarnemende DKD-woordvoerder, sê hy kan bevestig dat hulle Visser se aansoek ontvang het en dat sy binne ’n maand of twee ’n antwoord daarop sal kry.
Hy het bygevoeg Visser kom eers volgende jaar in aanmerking vir parool.
“Die paroolraad moet die besluit neem of sy nou in aanmerking daarvoor mag kom. Hul aanbeveling word dan na die kommissaris van korrektiewe dienste en die hoof van die betrokke gevangenis gestuur. Ek glo sy gaan ’n negatiewe antwoord ontvang,” sê Ximiya.
Visser se ma wou volgens Lemmer nie kommentaar lewer nie.
• Visser is in 2009 in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind op 11 van die 14 aanklagte teen haar, waaronder bedrog, onsedelike voorstelle aan minderjariges om onsedelike dade te pleeg, onsedelike aanranding en die besit en vervaardiging van kinderpornografie.