Wêreld sê totsiens aan Whitney

Duisende TV-kameras was gister buite die New Hope Baptist Church in Newark, New Jersey, opgestel vir die roudiens vir een van Amerika se mees geliefde sangers.

Sapa-AFP het berig die ster sal vandag in ’n private seremonie langs haar pa in die Fairview-beraafplaas in Westfield begrawe word.

Familie, vriende en gaste het Vrydag hul laaste eer aan Whitney Houston (48) betoon toe hulle haar kis by die ­Whigham-begrafnis­ondernemer besigtig het.

Geen openbare besigtiging of enige ander openbare gedenkdiens is gehou nie.

Limousines en sportnutsvoertuie het vroegdag by die kerk opgedaag waar die polisie ’n kordon getrek het om die duisende ondersteuners te beheer.

Die kerk waarin die diens gehou is, is die plek waar haar stem vir die eerste keer in die openbaar gehoor is toe sy as kind in die kerkkoor gesing het.

Dit was teen gisteroggend al duidelik dat dit een van die grootste roudienste tot nog sou wees wat deur die wêreld aanskou is.

Miljoene kykers was vasgenael voor hul TV-skerms.

Net 1 500 gaste is toegelaat by die diens. ’n Lykswa het Houston se kis gister kort voor 17:00 Suid-Afrikaanse tyd na die kerk geneem.

Die familie van die sanger het aanvanklik aangekondig dat ’n private diens gehou sou word, maar het later besluit om TV-kameras toe te laat.

Van die grootste name in die musiekbedryf het hulde aan haar gebring.

Stevie Wonder, Alicia Keys en R. Kelly het tydens die diens gesing en Kevin Costner, haar mede-ster in die trefferfliek The Bodyguard, het rouklaers toegespreek.

Ander sterre wat teen gistermiddag verwag is, sluit in Beyoncé, Alicia Keys, R. Kelly, Elton John, Oprah Winfrey, Chaka Khan, Houston se niggie Dionne Warwick, en Clive Davis, Houston se mentor.

Aanhangers het die verrigtinge op groot TV-skerms gevolg wat spesiaal vir hulle opgerig is.

Hulle het Vrydag ’n nagwaak voor die kerk gehou en van ­Houston se liedjies gesing en plakkate van die sanger rondgewaai.

Houston is verlede Saterdag dood in ’n bad gevind in ’n kamer in die Beverly Hills Hilton-hotel, ’n dag voor die Grammy-toekennings.

Daar word steeds gewag vir die uitslae van ’n lykskouingsverslag om die oorsaak van haar dood te bepaal.

So onlangs as 2009 het sy nog die Guinness World Records gehaal as die mees bekroonde sangeres van alle tye.

Sy het in haar loopbaan meer as 170 miljoen albums verkoop.

Sy het 6 Grammy-, 30 Billboard, 22 American Music-, en 2 Emmy-toekennings ontvang.

In 2009 is haar laaste album, I Look to You, uitgereik.

Dit was ’n topverkoper in die VSA, Kanada, Duitsland, Italië en Switserland.

Haar persoonlike lewe het ontspoor weens haar stormagtige huwelik met die sanger Bobby Brown.

Sy het ook gesukkel met verslawing aan alkohol en dwelms.

Medikasie wat in die hotel­kamer gevind is, sluit in pynverdowers en die antidepressant Xanax.

Bronne: Sapa, People.com