LIZEL STEENKAMP IN KAAPSTADlizel.steenkamp@rapport.co.za
Die regering gaan die private sektor deur nuwe wetgewing verplig om meer vroue in bestuursposte aan te stel en mans en vroue dieselfde salarisse te betaal.
Die voorgenome Wetsontwerp op Geslagsgelykheid sal ook klousules insluit om maatskappye wat nie aan die transformasieteikens voldoen nie te straf deur hulle te verbied om om staatstenders aansoek te doen.
“Boetes help nie. Ons wil hulle slaan waar dit regtig seermaak deur hulle te verhinder om met die regering sake te doen.
“Die regering is die grootste aanskaffer (van dienste en produkte), so dit gaan vir hulle ’n probleem wees,” het me. Hendrietta Bogopane-Zulu, adjunkminister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, die afgelope week aan Rapport gesê.
Hoewel tot 45% van die land se ekonomies aktiewe bevolking vroue is, toon statistieke van die Kommissie vir Gelyke Indiensneming daar word teen vroue in die werkplek gediskrimineer deurdat bittermin vroue poste op top- en senior bestuursvlak beklee.
Luidens die kommissie se verslag wat in Augustus uitgereik is, is net 19% van topbestuurders en 29% van senior bestuurders in die private sektor vroue. Die meeste van dié vroue is wit (meer as drie keer soveel as swart vroue).
Volgens Bogopane-Zulu bevestig dié syfers die Wet op Billike Indiensneming wat in 1998 van krag geword het, het wit vroue die meeste bevoordeel en swart vroue trek aan die kortste ent. Die voorgenome Wet op Geslagsgelykheid sal nie onderskeid tref tussen vroue van verskillende rasse nie.
Volgens Bogopane-Zulu stel die Wet op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB-wet) en die Wet op Billike Indiensneming die minimum standaarde vir transformasie en word daar in dié wette bepaal wie die aangewese groepe is wat in die werkplek bemagtig moet word.
“Ons wet (op geslagsgelykheid) sal in ooreenstemming daarmee wees.”
Hoewel mans en vroue op dieselfde posvlak in die regering dieselfde salaris verdien, is dit nié die geval in die private sektor nie, het Bogopane-Zulu gesê.
In ’n studie wat drie jaar gelede deur die Universiteit van die Witwatersrand gedoen is, is bevind vroue op topbestuursvlak word tussen 5% en 25% minder as hul manlike eweknieë betaal.
“Die verskil op middelbestuursvlak was kleiner. Of dit sedertdien verbeter het, weet ek nie,” het Bogopane-Zulu gesê.
Haar departement is nou besig met navorsing in verskillende sektore om te bepaal wat die ware toedrag van sake is.
Daar word tans aan die beleidsdokument vir geslagsgelykheid geskaaf en die konsepwetsontwerp behoort teen September opgestel en vroeg volgende jaar in die parlement ter tafel gelê te word.
Die wetsontwerp sal die teikens vir geslagsgelykheid in die private sektor én regering bepaal en die tydperk waarin die teikens behaal moet word.
Die eindelike mikpunt is om ewe veel mans en vroue op verskillende posvlakke te hê, maar dit sal geleidelik en oor ’n paar jaar gebeur.
Werkgewers in die private sektor word verplig om jaarliks vorderingsverslae met die toepassing van regstellende aksie in te dien.
Hoewel die Wet op Billike Indiensneming spesifieke teikens vir rassegroepe stel, is daar nie teikens vir geslagsgelykheid nie.
“Hulle kan dus nou self besluit teen watter pas hulle vroue aanstel.
“Maar dié wet (op geslagsgelykheid) sal teikens stel. Hulle sal nie meer die onafwendbare kan uitstel nie en hulle sal daaraan moet voldoen,” het Bogopane-Zulu gesê.
Sy het toegegee die regering is ook skuldig en dat die wetsontwerp op al drie regeringsvlakke van toepassing sal wees.