Regbank bevat feilbare mense

In die laaste paar maande het die ietwat lomp stellings van sommige comradesin ons beweging ’n weg gebaan vir ’n onbehulpsame debat.

Dele van die media én opposisiepartye het dié stellings aangegryp. Die ANC-geleide alliansie is na bewering gekant teen ons Grondwet en haal alles uit om die onafhanklikheid van die regbank te ondergrawe. Die te verwagte konserwatiewe het op die lawaaiwa geklim en ons Grondwet geparadeer asof dit ’n eng 19de-eeuse liberale dokument is wat ontwerp is om die staat te beperk en hul private eiendom te beskerm.

Die voormalige hoofregter Arthur Chaskalson het onlangs ’n baie belangrike bydrae tot die debat gelewer toe hy laat in Januarie ’n regswerksessie by die Universiteit van Kaapstad toegespreek het.

Hy het verwys na die aanloop tot die Grondwet en grensverskuiwende uitsprake van die konstitusionele hof en skitterend die idee ontluister dat die Grondwet op een of ander manier ’n struikelblok is vir ingrypende transformasie. Hy trek die oorsprong tereg na tot die tradisies van die bevrydingstryd, waaronder die Vryheidsmanifes van 1955 en die Harare-verklaring (1989).

Chaskalson sê verder dat die Grondwet lank nie net bloot die staat inperk nie, maar dat dit die uitvoerende gesag verplig om die samelewing te transformeer. Die Grondwet, sê hy, vra vir positiewe optrede waarmee die nalatenskap van apartheid, armoede en ontmagtiging gekonfronteer kan word en vir die opbou van ’n waarlik nie-rassige samelewing wat verbind is tot maatskaplike geregtigheid.

Transformasie voorsien mettertyd ’n verbetering in die lewe van mense deur beleidsrigtings, programme en projekte te institusionaliseer. Tot sover goed. Trouens, tot sover uitstekend. Chaskalson gee toe: “Daar kan dalk bepaalde sake wees waarin die regters iets gedoen of hulle van iets weerhou het wat wetlik die misnoeë van die uitvoerende gesag kon ontlok.

“Gewoonlik kan die kwessies reggestel word, maar selfs waar dit onmoontlik is, regverdig dit nie ’n aanval op die regbank as instelling nie.”

Weer is hy sekerlik in die kol ... Maar die laaste sin opper ’n voor die hand liggende vraag.

Wat gebeur wanneer die konstitusionele hof, sê nou maar, uitspraak lewer ten gunste van die konserwatiewe, wit landbou-unies wat tans die grondwetlikheid van die Wet op Petroleum- en Mineraalbronne bevraagteken? Dié wet maak die mineraalbronne in die grond die eiendom van alle Suid-Afrikaners met die staat as die bewaarder.

Die boere, van wie sommige dalk mineraalryke grond besit, wil natuurlik aanspraak maak dat dié minerale hul persoonlike eiendom is.

Dit is ondenkbaar dat die konstitusionele hof in dié geval ten gunste van wit landboubelange kan bevind. So ’n besluit sal lynreg indruis teen die gees en letter van die Handves van Menseregte, waaronder die eiendomsklousule.

Maar regters is menslik en sommige in die konstitusionele hof het al in die geheim gevoelens teen die ANC en uitvoerende gesag uitgespreek.

Ek noem dié punte nie om die regbank as instelling aan te val of sy noodsaaklike onafhanklikheid te bevraagteken nie, maar om ons te herinner dat die regbank (soos die uitvoerende gesag) uit feilbare mense bestaan, nie halfgode nie.

Hoe verseker ons so ver moontlik dat ons instellings en stelsels het wat deursigtige en onkreukbare gedrag onder ons regters bevorder? Wat gebeur as ’n konstitusionele hof-regter in ’n konsortium is met bedryfsboere wat op mineraalafsettings sit?

Ek het nie rede om te glo dit ís so nie, maar die huidige beweerde traagheid van die regbank om sy sakebelange te verklaar (op die vals grondslag dat dit die onafhanklikheid van die instelling sal ondergrawe) boesem nie juis vertroue in nie.

Die uitvoerende gesag en sy ­dade moet aan die Grondwet antwoord gee. Die parlement se wette word onderwerp aan regterlike hersiening.

Die regbank het ook ’n plig om getrou te bly aan die Grondwet. Selfs die konstitusionele hofregters wat, ja, spelers én skeidsregters op dié gebied is.

Hoe verseker ons dat die regbank bestaan uit individue wat aanhou om die transformasionele visie te bevorder wat so goed verwoord is deur onder andere die voormalige hoofregters Ismail Mahomed en Chaskalson?

Dit is waar dit lyk of Chaskalson so effens kleigetrap het.

Soos ons gesien het, het Chaskalson in sy verwysing na die gees van die Grondwet die term “transformasie” in sy radikale betekenis van ’n omvattende en sistemiese politieke, maatskaplike en ekonomiese verandering gebruik.

Maar toe hy die bewering dat die regbank “ongetransformeer” is die hoof moes bied, verlaat hy hom op die engste van alle betekenisse.

Hy doen ’n rasse- en genderkwotatelling. Natuurlik is die strewe na ’n meer gebalanseerde verteenwoordiging in kernposte van gesag en mag nie onbelangrik nie, maar soos die bitter ondervinding van eng SEB ons geleer het: Kosmetiese verandering boaan die ranglys kan die aandag aflei van volhoubare transformasie oor die stelsel heen.

Solank as wat dié debatte geraam word in “ons” en “hulle” – soos in die ANC teenoor die Grondwet, of die uitvoerende gesag teen die regbank – sal ons nie veel verder vorder nie.

Ons sal, in der waarheid, net in die hande speel van die reaksionêre wat die Grondwet wil verwater en ’n Suid-Afrika bevorder wat nog grootliks ongetransformeer is.Jeremy Cronin is ’n SAKP-lid en adjunkminister van vervoer.