Shaik vs. minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling (2003)
Schabir Shaik, pres. Jacob Zuma se voormalige finansiële raadgewer, vra die hof verlof tot appèl en om dele te verklaar van die Nasionale Vervolgingsgesagwet – waarkragtens hy hom beskikbaar moet stel vir ondervraging oor die beweerde wapenskandaal – wat nie strook met die Grondwet nie.
Die hof verwerp sy aansoek en sê hy het nog al sy regte tot sy beskikking.
Shaik vs. staat en ander (2007)
Shaik word skuldig bevind aan bedrog en twee aanklagte van korrupsie in 2005 en sy appèlaansoek draai in die konstitusionele hof. Hy appelleer teen sy vonnis op grond daarvan dat die “sosiaal-ekonomiese konteks van rassediskriminasie” hom gelyke geleenthede ontneem het en dat hy nie ’n regverdige verhoor gehad het nie. Die hof verwerp sy appèl en voer aan Schaik is “op geen manier verplig of gedwing om betrokke te raak by korrupte bedrywighede weens die maatskaplike konteks waarin hy hom bevind het nie”.
Thint/Zuma vs. nasionale direkteur van openbare vervolging (2008)
Zuma en die wapenmaatskappy Thint beveg die wetlikheid van lasbriewe vir die deursoek en beslaglegging wat aan die destydse Skerpioene uitgereik is om hul eiendomme te deursoek.
Die hof het beslis die wet vereis dat lasbriewe redelik duidelik moet wees en dat die betrokke lasbriewe wel was.
Hul appèl is van die hand gewys.
Thint Holdings/Zuma vs. nasionale direkteur van openbare vervolging (2008)
Zuma en Thint bevraagteken die wetlikheid van ’n brief wat die nasionale direkteur van openbare vervolgings aan die owerhede in Mauritius gestuur het waarin hulle toegang vra tot dokumente waarop beslag gelê is in klopjagte op die eiendom van Thint in Mauritius. Zuma beweer sy reg op ’n regverdige verhoor, waardigheid en toegang tot die howe is geskend. Die konstitusionele hof verskil. Die hof bevind die NVG se “ondersoekende tegnieke en insameling van inligting” is “wettige en regmatige strategie”.
Glenister vs. president van die RSA (2010)
Die konstitusionele hof beslis die wetgewing waarkragtens die Skerpioene ontbind en die Valke ontstaan het, is ongrondwetlik. Ook dat die Valke, wat in die polisie gesetel is, “onvoldoende afgesonder is van politieke inmenging”.
Justisie-alliansie van Suid-Afrika/Vryheid onder die Reg/Raad op die Bevordering van Suid-Afrika se Grondwet (2011)
Zuma probeer ’n deel van die Wet op Regters gebruik om hoofregter Sandile Ngcobo se termyn te verleng. Dié deel laat ’n president toe om ’n hoofregter te vra om sy termyn te verleng.
Die konstitusionele hof het beslis dit is strydig met die Grondwet omdat dit die parlement se wetgewende gesag ondermyn.