Vonkelvrou van VF+ in hof oor KOMPLOT
Julian Jansen in Worcesterjulian.jansen@rapport.co.za
In die Bolandse dorp Worcester staan mev. Nell-Mari Cooke (30) bekend as ’n vonkelvrou, ’n Vryheidsfront Plus-kandidaat in 2011 se munisipale verkiesing en ’n voormalige jeugleier van die Wes-Kaapse tak van dieselfde party.
Dinsdag het dié woeker-vrou in die landdroshof in Worcester verskyn op aanklag van sameswering om haar man te laat vermoor. Haar tuinier en ’n vermeende bendelid van dié dorp is glo deur haar gewerf om haar 33-jarige man, Martin, te vermoor.
’n Geskokte mnr. Cooke het op 7 Februarie van die sameswering uitgevind toe hy ’n handgeskrewe brief uit die posbus by die huis gehaal het. In dié brief is verwys na beloofde geld vir die moord op hom.
Hy en sy vrou is vervreem. Sy woon nog in hul huis in Paglande, ’n lowerryke woonbuurt in die middedorp.
Mnr. Cooke kon die skrywer van die brief, ’n vermeende lid van die JCY-bende in Worcester, opspoor.
Hy het die man met die brief gekonfronteer, waarna die man erken het hy is gevra om die vrou se man te vermoor.
Cooke het toe die polisie ingelig en sy vrou is in hegtenis geneem.
Mev. Cooke het in die hof ontken dat sy met die twee saamgesweer het om haar man te vermoor.
In haar borgtogaansoek Dinsdag het haar prokureur, mnr. Sakkie Krouwkam, aan die hof gesê die egpaar moes ’n dag voor haar inhegtenisneming in die hof verskyn het ná ’n aansoek dat die kinders se onderhoudgeld van R3 000 tot R500 verminder word.
Haar vermeende medepligtiges sal as staatsgetuies in die saak getuig.
Die ondersoekbeampte, ao. Deon Daames, het Dinsdag tydens Cooke se borgtogaansoek gesê selfoonrekords van mev. Cooke se foon sal bewys dat sy gereeld kontak met die mans gehad het.
Cooke is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Volgens haar borgtogvoorwaardes moet Cooke haar paspoort inhandig, geen kontak maak met die klaer of ander staatsgetuies nie en ook nie die landdrosdistrik van Worcester verlaat sonder om Daames vooraf daarvan in te lig nie.
’n Hoorbaar senuagtige mnr. Cooke wou by navraag geen kommentaar lewer nie.
Vriende na aan die egpaar vertel die egpaar se huweliksbootjie het in 2010 begin sink toe mev. Cooke in 2010 glo ’n verhouding met mnr. Adriaan Jansen van Nelspruit gehad het.
Mev. Cooke verskyn Donderdag weer in die hof.
;Najwa Petersen het huurmoordenaars betaal om haar man, die musieklegende Taliep Petersen, in Desember 2006 te vermoor. Sy dien tans 28 jaar tronkstraf uit.
;Ruby Marais van Stilbaai het in 2006 huurmoordenaars gekry om haar man, Basie, te vermoor. Sy is lewenslange gevangenisstraf opgelê.
;Mev. Susanne Hoff (51) van Windhoek is tans in aanhouding nadat sy verlede jaar glo ’n man R37 000 sou betaal het om haar eggenoot, Egbert, te vermoor.