Sy emosies ‘onontwikkel’
Tisha Steyn in Riversdaltish.steyn20@gmail.com
’n Jong man wat sedert 2009 gesê het hy het sy pa, ’n ryk boer van Stilbaai, doodgeskiet, het in ’n dramatiese wending in sy moordsaak getuig dit was nie hý wat die sneller getrek het nie.
Mnr. Kosie van Zyl (nou 20 jaar oud) was 17 toe sy pa, mnr. Koos van Zyl (40), in November 2009 doodgeskiet is voor die TV waar hy gedut het.
Van Zyl jr. het die skuld op hom geneem. Uit sy getuienis in die George-streekhof Woensdag het dit geblyk Van Zyl jr. se ma, Vicky (39 tydens die voorval), het glo daardie nag vir hom gesê hy moet sê hy het sy pa geskiet.
Tydens vroeëre getuienis deur dr. Nicolize Pienaar, kliniese sielkundige van Mosselbaai, het Van Zyl jr. aan haar gesê: “ ‘Tannie, ek is maar ’n f*k*p; ek gaan al die skuld op my vat – dan is als oor.’ ”
Pienaar het Vrydag weer in die streekhof in Riversdal getuig waar die saak voortgesit is.
Van Zyl jr. is Donderdag deur die staatsaanklaer, mnr. Brandon Smith, gekruisondervra om dele van sy getuienis te verduidelik.
Adv. John van der Berg van Kaapstad, wat deur mnr. Kerneels Meyer, ’n prokureur van Mosselbaai, aangestel is om die verdediging waar te neem, wou van Pienaar weet hoekom die beskuldigde nie sy pa gewaarsku het daar is doodsdreigemente teen hom nie.
“Omdat Kosie se pa hom sedert ’n jong ouderdom erg mishandel het, het hy nooit basiese vertroue ontwikkel nie. “Hy kan nie abstrak redeneer nie, maar bly konkreet by wat hy hoor,” het Pienaar gesê.
“Probleemoplossing is buite sy kapasiteit.”
Sy het sy graad van ontwikkeling vergelyk met dié van ’n tweejarige.
Volgens Pienaar was Van Zyl jr. se reaksie “ek was bang vir wat gebeur het”, maar dat sy emosie ophou by “bang wees”.
Hy redeneer nie verder waarom hy bang is nie, het sy getuig.
Van Zyl jr. sou nie kon verwoord sy ma het hom voorgesê om die skuld op hom te vat nie.
“Dit is nie in sy woordeskat nie.”
Smith wou weet waarom Van Zyl jr. uiteindelik tog met die waarheid uitgekom het.
Pienaar het verduidelik dat hy sedert sy pa se dood die eerste keer ondersteuning gekry het en dat hy in ’n mate emosioneel ontwikkel het tot die vlak van ’n vyfjarige.
Die saak, voor streeklanddros Eugenie Jacobs, is tot 23 Maart vir betoë uitgestel.