Lasbrief uitgereik vir Mandla Mandela

Mnr. Mandla Mandela, ’n kleinseun van oudpres. Nelson Mandela en ’n parlementslid, verskyn môre op Mthatha in die hof op aanklag van veelwywery.

Dit kom nadat hy versuim het om vir ’n vergadering met die polisie op te daag sodat hy ’n verklaring kon aflê oor sy vervreemde eerste vrou, me. Thando Mabunu-Mandela, se klag van veelwywery teen hom. Hy moes ook Vrydag in die rondgaande hof op Bityi verskyn het, maar het ook nie daarvoor opgedaag nie.

Die Oos-Kaapse polisie het gister gesê hulle is nie bewus van ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming omdat hy nie in die hof was nie.

Mnr. Bertus Preller, Mabunu-Mandela se prokureur, het Vrydag aan die KwaZulu-Natalse koerant The Witness, ’n susterkoerant van Rapport, gesê ’n lasbrief is vir Mandela uitgereik, maar dit is nog nie uitgevoer nie.

Mabunu-Mandela het die klag van veelwywery in laat Desember ingedien toe Mandela ’n interdik verontagsaam het wat hom verhinder het om met me. Mbalenhle Makhathini, sy derde vrou, in Pietermaritzburg te trou.

Mandela het ook verlede jaar probeer om met me. Anais Grimaud, ’n Franse vrou saam met wie hy ’n kind het, te trou.

Mabunu-Mandela, wat in 2004 binne gemeenskap van goedere met Mandela getrou het, hou vol sy gewoontereg-huwelike kan nie naas sy burgerlike huwelik met haar bestaan nie.

Hul egskeiding is nog hangende, sê sy. Sy het intussen beslag laat lê op sy vee en sy bankrekeninge laat bevries. Sabelo Skiti en Sapa