Ouers veg tot in VSA vir siek kind

Kristin Swarts (3) het net twee jaar oor om te leef.

Nee, ses maande.

Nee, jammer, oor twee dae gaan sy dood, maak dit vir haar so gemaklik moontlik.

Met dié raad van verskillende Suid-Afrikaanse onkoloë, radioloë, neuroloë, pediaters en algemene praktisyns moes Kristin se ouers, mnr. Francois en me. Christina Swarts van Atlantis, terugkeer huis toe om van hul babadogter afskeid te neem.

Nadat ’n ponsglioom in Augustus by hul dogter gediagnoseer is, moes dié ouerpaar in Desember hoor Kristin het net twee dae oor om te leef.

Maar Kristin het almal verstom deur aan te hou veg. Sy kan steeds speel en nou is daar die moontlikheid dat sy dalk in die VSA hulp vir dié seldsame siektetoestand kan kry.

’n Ponsglioom is ’n ongenees­like kankergewas geanker in die breinstam (pons) waar al die liggaam se senuweepunte byeenkom.

Dit is onmoontlik om daar te opereer.

Volgens dokters kan bestraling moontlik die glioom verklein, maar dit kan nie die gewas vernietig nie.

Ná die diagnose het Kristin 28 dae vir bestraling gegaan.

“Dokters het voorspel dat sy baie siek sou wees, maar Kristin het die dokters voortdurend verkeerd bewys,” sê haar ma.

“Daar is gesê sy het twee jaar om te leef, toe weer ses maande.

“Met die laaste MRI-skandering op 2 Desember het die dokters gesê die gewas is gevorderd en daar is niks wat hulle meer vir haar kan doen nie, dat ons dogtertjie op 4 Desember gaan versmoor.

“Ek het geweier om dit te aanvaar.”

By Rapport se besoek aan die Swarts-woning verlede week was Kristin springlewendig.

Sy loop effens wankelrig en haar linkerarm is verslap, maar andersins is sy sprankelend en vol lewe.

Sy speel en lag en klets aanmekaar.

“Sy is ’n vegter, sy het ons geleer om nie moed op te gee nie. Toe die dokters sê daar is nie hoop nie, het sy dapper bly veg.

“Dokters wil hê ons moet sit en wag dat ons kind doodgaan, maar ek glo God is in beheer.

“Al hul voorspellings tot dusver was verkeerd.”

Me. Swarts het self navorsing gedoen en gehoor van dr. Stanislaw. R. Burzynski in Houston, Texas, wat pasiënte met ponsglioom behandel.

Dié dokter is bereid om Kristin te ondersoek.

Hy het die Burzynski-navorsingskliniek in 1984 gestig.

Mnr. Swarts sê hy glo sy dogtertjie gaan gesond word.

Hulle moet nou net hul visums gereed kry voordat hulle na die VSA kan vertrek.

“Ons is van bakboord na stuurboord, hospitaal na hospitaal, dokter na dokter . . . ons mediese fonds is uitgeput.”

Me. Swarts het selfs haar werk as administratiewe klerk van die Stad Kaapstad opgegee sodat hulle met haar pensioen die mediese koste kan betaal.

“Ons glo waar daar ’n wil is, is daar ’n weg en Kristin het ’n wil om te leef Ons sal aanhou veg.”