Die Universiteit van KwaZulu-Natal gaan teen studente optree wat rassedreigemente op Facebook gemaak het.
’n Student het onder meer op die universiteit se Facebook-blad geskryf wit mense en Indiërs moet vermoor word nadat ’n ander student geskryf het swart mense is onnosel en wil alles gratis hê.
Die woordewisseling is deur ’n student begin wat Woensdag geskryf het:
“Indiërs sal nooit swart mense verstaan nie, want daar is te veel rasseverskille.
“Ons is gebore om te moor en ons sal môre alle Indiërs op kampus uitwis.
“Moenie opdaag nie, want jy sal reguit hemel toe gaan.”
Die woordetwis kom ná spanning toe ’n groep oproeriges Maandag en Dinsdag chaos op die Westville-kampus gesaai het tydens ’n betoging oor ’n gebrek aan verblyf vir studente en geldelike bystand deur die universiteit.
Die polisie het uiteindelik ingegryp en traangas en waterkanonne gebruik om die skare te beheer nadat eiendom beskadig is, studente geïntimideer is en ’n dosent aangerand is.
Me. Nomonde Mbadi, woordvoerder van die universiteit, sê die aangeleentheid word tans ondersoek.
“Ons beskou die aangeleentheid in ’n baie ernstige lig.
“Daar sal beslis teen studente opgetree word wat die universiteit se reëls oortree het. Ons interne tugprosesse sal hieroor gevolg word,” sê sy.
Johan Eybers