Dominee tronk toe oor hy ‘in nes met verkeerde mense’ beland

’n Predikant en voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn wat verval het “onder ’n nes van mense wat die verkeerde pad loop”, is Donderdag tien maande lank tronk toe gestuur weens bedrog.

Ds. Noel Pietersen, wat vier jaar gelede as munisipale bestuurder hier aangestel is, is in die streeklanddroshof skuldig bevind op aanklag dat hy belastingbetalersgeld vir eie gewin aangewend het.

Streeklanddros Mark van Wyngaardt het Pietersen gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf onder bepaling 276 (1)(i) van Wet 55 van 1977.

Dit beteken dat Pietersen minstens ’n sesde (dus tien maande) van sy vonnis in die gevangenis moet uitdien voordat hy om korrektiewe toesig kan aansoek doen.

Die aanklag spruit uit ’n bedrag van R17 542,45 wat die Oudtshoorn-munisipaliteit vir Pietersen se persoonlike regskoste in ’n naamskendingsgeding teen mnr. Nic Barrow, ’n sakeman van die dorp, betaal het.

Pietersen het deurgaans volgehou dat twee “hoë amptenare”, mnre. Tembani Guthas, destyds hoof van korporatiewe dienste, en Tinus Matthysen, destyds hoof van finansies, hom na afloop van ’n raadsvergadering ingelig het dat die raad besluit het om hom te “ondersteun en te beskerm” omdat Barrow glo “die lewe vir hom moeilik” gemaak het.

Hoewel die raad se besluit, wat op skrif gestel is, geen melding maak van die betaling van persoonlike regskoste nie, het Pietersen in die hof getuig hy het op grond van raad van sy kollegas aansoek gedoen vir die betaling van sy persoonlike regskoste.

Die koste is betaal sonder dat ’n enkele wenkbrou gelig is.

Van Wyngaardt het tydens vonnisoplegging gesê Pietersen het met sy aanstelling in ’n “nes” beland.

“Ongelukkig het u hier in ’n nes van mense beland wat nie was wat hulle behoort te gewees het nie.

“U het verval onder dié mense, wat dit moeilik gemaak het vir ’n ordentlike mens om op die regte pad te loop terwyl almal om jou die verkeerde pad loop,” het Van Wyngaardt gesê.

Volgens Van Wyngaardt was dit juis die “laakbare optrede” van die mense om Pietersen wat die belangrikste versagtende omstandighede was.

“Maar u was as rekenpligtige beampte in ’n posisie van vertroue en sodanige vertrouensbreuk kan nie geduld word nie. Hoewel u die geld terugbetaal het, het u dit steeds geneem.

“U word skuldig bevind aan bedrog, terwyl dit u plig was om seker te maak dat belastingbetalersgeld behoorlik aangewend word.

“Hier is so baie arm mense in die dorp wat hulp nodig het dat ons nie ’n sent kan laat verlore gaan nie.”

Adv. Jerome van der Schyff van Kaapstad het namens Pietersen opgetree en mnr. Johan Erasmus het vir die staat aangekla.