Aanklaer skop vas teen ondersoek

Eis by NVG redes vir skorsing

’n Top-aanklaer wat dalk deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) geskors kan word, sê nie die “geringste moontlikheid” bestaan dat sy gaan toelaat dat ’n buiteparty inmeng in sake wat sy ondersoek nie. Adv. Glynnis Breytenbach sê, sy voer altyd haar pligte “onafhanklik” en “objektief” uit.

In ’n beëdigde verklaring wat die afgelope week by die Noord-Kaapse hooggeregshof ingedien is, het Breytenbach die eerste keer kommentaar gelewer sedert die NVG sowat twee weke gelede ’n kennisgewing van skorsing aan haar bestel het.

Die NVG beskuldig Breytenbach, hoof van die spesiale handelsmisdaadhof in Pretoria, daarvan dat sy haar magte misbruik het in ’n saak wat betrekking het op die toeken van mynregte van miljarde rande vir die ontginning van ystererts by Sishen.

Breytenbach het dié klag deur haar regsverteenwoordiger ontken en die NVG gevra om redes te verskaf waarom hulle haar wil skors.

Sedertdien het die NVG niks verder oor die saak gesê nie.

Breytenbach is die aanklaer in ’n bedrogsaak wat deur die Valke ondersoek word. Die ondersoek het te doen met die aansoek van ’n maatskappy met ANC-bande om 21,4% van die prospekteer­regte in die Sishen-myn te bekom.

Die regte is oorspronklik aan Imperial Crown Trading (ICT) toegeken, maar dit is verlede jaar deur die hooggeregshof in Pretoria teruggetrek. ICT het teen dié beslissing geappelleer.

In afsonderlike sake beskuldig ICT en Kumba Iron Ore mekaar nou daarvan dat die een die ander se aansoek om mynregte saboteer.

Die hoof van ICT is die voormalige stadsbestuurder van Kimberley, mnr. Phemelo Sehunelo. Pres. Jacob Zuma se seun Duduzane is ’n aandeelhouer en adj.pres. Kgalema Motlanthe se lewensmaat, me. Gugu Mtshali, is ’n direkteur.

Kumba voer aan ICT het onwettig toegang tot sy aansoek gekry in die kantoor van die departement van minerale hulpbronne (DMH) en afskrifte daarvan gemaak. ICT beskuldig Kumba weer daarvan dat hy dié maatskappy se “regte” aansoek deur ’n vervalste weergawe in die DMH-kantoor vervang het.

In Julie verlede jaar het die Valke ICT se kantoor, Sehunelo se huis en die DMH-kantoor deurgesoek en op rekenaars en dokumente beslag gelê. ICT bevraagteken nou in die hooggeregshof in Pretoria die geldigheid van dié ondersoek, asook die beslagleggingsbevel wat gebruik is.

In ’n beëdigde verklaring beskuldig Sehunelo Breytenbach en die Valke se ondersoekbeampte, lt.kol. Sandra van Wyk, van vooroordeel.

Hy voer aan Breytenbach en adv. Mike Hellens SC, Kumba se regsverteenwoordiger, het ’n hegte verhouding en dat Hellens “moontlik die ondersoek beheer het of onregstreeks die ondersoek in ’n bepaalde rigting gestuur het”. ICT het ook ’n klag by die NVG ingedien wat regstreeks gelei het tot die aksie wat nou teen Breytenbach begin is.

In haar beëdigde verklaring – in reaksie op ICT se beskuldiging – het Breytenbach Maandag gesê “dit sou fiksie wees en heeltemal uit pas met die werklikheid dat ’n klaer net ’n klag indien en dan die saak vir die polisie en aanklaer laat om alles self uit te werk”.

Sy sê dis nie vreemd vir ’n klaer of hul regsverteenwoordigers, soos Hellens (in die geval van Kumba), om die vervolgingsgesag in ingewikkelde handelsake by te staan nie.