Leopold Scholtz in Den Haagnuus@rapport.co.za
Koningin Beatrix en die Nederlandse koninklike familie het gister geskok gewaak by die ernstig beseerde prins Johan Friso wat in ’n sneeustorting in Oostenryk onder tonne sneeu begrawe is.
Volgens berigte is sy toestand stabiel, maar sy lewe is steeds in gevaar.
Die dokters van die hospitaal in Innsbruck waar die prins behandel word, sal eers oor ’n paar dae ’n prognose kan gee.
Johan Friso (42), of Friso soos hy algemeen bekend staan, is die tweede van Beatrix se drie seuns.
Hy was ten tyde van die sneeustorting saam met ’n klomp lede van die koninklike familie op hul jaarlikse ski-vakansie in die Oostenrykse dorpie Lech. Luidens berigte het die omgewing van Lech die laaste paar dae ’n buitengewoon swaar sneeuval gehad en die plaaslike owerheid het ’n sneeustortingswaarskuwing van vier (vyf is die ergste) uitgereik.
Dit beteken mense word aangeraai om net binne die gebaande weë te ski.
Friso en ’n kennis het hulle nie daaraan gesteur nie en eergister op ’n gevaarlike plek gaan ski.
Hulle het ’n sneeustorting veroorsaak.
Die prins is onder etlike meters sneeu begrawe en was 23 minute lank vasgevang. In dié tyd het hy waarskynlik ’n gebrek aan suurstof ondervind.
Gelukkig het hy ’n spesiale sendertjie by hom gehad waardeur die vriend hom gou kon opspoor.
Hulpverleners was gou op die toneel en het die bewustelose prins bygebring, waarna hy met ’n helikopter na die universiteitshospitaal in Innsbruck gevlieg is.
Kroonprins Willem-Alexander en sy vrou, prinses Máxima, het eergisteraand inderhaas ook met hul drie dogtertjies na Oostenryk gevlieg om by die res van die familie te wees. Hulle is gister na Innsbruck, sowat 100 km van Lech, om by Friso te waak.
Volgens kenners wat weet hoe sulke gevalle behandel word, word Friso waarskynlik in ’n kunsmatige koma gehou.
Hy werk as ’n finansiële raadgewer by ’n beleggingsmaatskappy in Londen. Hy is bekend as ’n introvert en neem nie veel deel aan openbare verskynings van die koninklike familie nie. Hy en sy vrou, Mabel, het twee dogters.