Studiegeld styg, maar subsidies verminder

Universiteite se finansies is benard en as staatsubsidies nie aansienlik styg nie, kan die gehalte van onderrig in die gedrang kom.

Hoër Onderwys Suid-Afrika ­(Hesa), wat die land se 23 universiteite verteenwoordig, het dié waarskuwing die afgelope week in die parlement gerig en gesê universiteite moet hoër studiekoste hef om die tekort aan te vul. Dit sal baie duurder word om aan universiteite te studeer as die regering nie sy sak begin skud nie.

Luidens Hesa se syfers het die getal studente wat aan universiteite studeer tussen 2000 en 2010 met 61% toegeneem. Hoewel die studente­getalle in dié dekade van 550 666 tot 886 641 gestyg het, het staatsubsidies in die ooreenstemmende tydperk met 5% gedaal, van 46% tot 41%.

Dr. Jeffrey Mabelebele, waarnemende uitvoerende hoof van Hesa, het aan die portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding gesê die situasie is onvolhoubaar omdat die subsidies wat die regering aan universiteite betaal, nie verband hou met die instellings se operasionele koste nie.

Boonop sukkel universiteite om studieskuld in te vorder.

Prof. Russel Botman, rektor van die Universiteit van Stellenbosch, het op dieselfde vergadering sy kommer uitgespreek oor die gehalte van matriek en dat sommige studente nie die mas op universiteit opkom nie.

“Van hulle bou skuld op wat hulle in ’n leeftyd nie sal kan betaal nie,” het hy gesê.

Hoewel die nasionale skema vir studentefinansieringshulp (NSFAS) R3,6 miljard beskikbaar gestel het in die 2012-’13-boekjaar vir lenings aan sowat 155 000 universiteitstudente, is dit onvoldoende.

Volgens Mabelebele betaal die Rhodes-universiteit in Grahamstad vanjaar R36 miljoen om behoeftige studente te help.

Volgens Hesa sal twee nuwe universiteite in die Noord-Kaap en Mpumalanga dié probleem nie oplos nie.

Universiteite moet eerder beter gefinansier en die kolleges vir verdere onderwys en opleiding se kapasiteit moet aansienlik uitgebrei word.

Hesa se jongste syfers toon die hoeveelheid swart studente aan universiteite het tussen 2000 en 2010 met sowat 280 000 toegeneem, bruin mense met 18 000 en wit mense met 15 000. Swart mense maak nou 67% van die studentebevolking uit, bruin mense 7% en wit mense 20%.