CARIEN KRUGER IN PRETORIAcarien.kruger@rapport.co.za
’n Gestoei oor “een simpel sitplek” in ’n stampvol lesinglokaal het daartoe gelei dat ’n student aan die Tshwane-universiteit vir Tegnologie (TUT) se oogbank oopgekloof is.
Me. Melissa van Vollenhoven (23), student in siviele ingenieurswese, moes ses steke bokant haar linkeroog kry nadat ’n medestudent haar Donderdag na bewering met die vuis geslaan het.
Van Vollenhoven het Vrydag gesê daar is gewoonlik nie genoeg plek in die strukturele ontledingsklas nie.
Daarom was sy Donderdag al 12:00 daar vir die klas wat 12:30 sou begin.
Sy en ’n vriendin het vir iemand plek gehou, iets wat volgens haar algemene praktyk is.
’n Swart medestudent, wat Van Vollenhoven sê sy nie voor die tyd geken het nie, wou 12:20 daar kom sit.
Hy wou glo nie aanvaar dat sy vir iemand plek hou nie.
Van Vollenhoven sê sy glo daarin om op haar regte te staan. “Ek laat nie mense oor my loop nie.”
Sy het hom probeer wegdruk en het tussen hom en die sitplek gaan staan.
Hy het haar toe glo aan die keel gegryp.
Volgens Van Vollenhoven het sy met haar een hand sy hand probeer wegdruk en hom toe met die ander hand agter teen sy nek geklap.
Hy het haar toe glo met die vuis bokant haar linkeroog geslaan.
Van Vollenhoven sê sy het met haar hande na haar gesig gegryp, begin huil en badkamer toe gestorm.
Die wond het baie gebloei en haar klere was vol bloed.
Die wond is by die TUT se mediese sentrum skoongemaak en ’n dokter by die Eugène Marais-hospitaal het dit later met ses steke toegewerk.
Van Vollenhoven sê tydens die onderonsie het sy en die man mekaar nie gevloek of enige rasverwante taal gebruik nie.
Sy beskou dit daarom glad nie as ’n rasverwante voorval nie.
Wit én swart studente het haar Vrydag op die kampus gevra hoe dit met haar gaan.
Volgens me. Willa de Ruyter, TUT-woordvoerder, word die voorval ondersoek en sal daar ná afloop van ’n verhoor oor tugstappe besluit word.
Kapt. Louise Reed, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n klag van aanranding ingedien is.
’n Verklaring is by die vermeende aanrander afgeneem en die dossier is na die hof gestuur om te besluit wat verder moet gebeur.
Melissa se ma, mev. Zelda van Vollenhoven van Fochville, sê sy is baie teleurgesteld dat so iets kon gebeur waar ’n mens sou verwag dat mense volwasse sal optree.
Sy hoop geregtigheid sal geskied sodat die beweerde aanrander sal besef dat daar gevolge is vir sulke dade.