Pretoria. – ’n Gautengse distriksdirekteur van onderwys het in ’n foutbesaaide memorandum by Oos-Randse skoolhoofde die indruk gewek dat apartheid as volksmoord aan leerlinge voorgehou moet word.
In die memorandum, waarvoor die onderwysdepartement intussen Donderdag verskoning moes vra, word melding gemaak van “Apartheid Holocaust Education”. Onderwysers sou opgelei word en 6 000 gr. 9-leerlinge sou die Apartheidsmuseum in Johannesburg besoek, lui die memorandum van die Ekurhuleni-Noord-distrik.
Prof. Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, sê so ’n projek sal versoening ondermyn. Hy meen die Apartheidsmuseum plaas klem op “die verskrikkinge van apartheid en dit sal noodwendig wrewel by jeugdiges versterk. Om 13- of 14-jariges nou bykomend tot die gewone leerplan hieraan bloot te stel, is nie in nasionale belang nie.”
Carien Kruger