Johan Eybers in Johannesburgjeybers@rapport.co.za
Gautengers behoort teen Woensdag te weet of tolgeld op die snelweë gehef gaan word.
Ná meer as tien jaar se beplanning, miljoene rande se voorbereidingskoste en ’n skuldlas van R28 miljard om die snelweë te verbeter, hang die toekoms van die tolstelsel nou af van mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies.
Hy sal na verwagting in Woensdag se begrotingsrede uitsluitsel daaroor gee.
Indien Gordhan besluit om die tolstelsel te laat vaar, sal hy ’n plan moet beraam om die R28 miljard terug te betaal wat die snelweë die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gekos het. Sanral het dié geld geleen met die veronderstelling dat hy dit met tolgeld sal terugbetaal.
Hy is daarom kontraktueel verplig om voort te gaan met die stelsel.
Mnr. S’bu Ndebele, minister van vervoer, het intussen aangedui die regering het geensins afgesien van die beginsel dat motoriste moet betaal om ’n spesifieke pad te gebruik nie. Dit is moontlik ’n aanduiding dat die tolstelsel sal voortgaan.
Rapport verstaan Gordhan is verder glad nie daarvoor te vinde dat die tesourie Sanral se skuld oorneem nie. Hy is ook nie ten gunste daarvan dat snelweë uit die nasionale brandstofheffing gefinansier word nie.
Johan Eybers