SUNÉ KITSHOFF IN KAAPSTADsune.kitshoff@rapport.co.za
Die stryd tussen Suid-Afrika en Australië om die R15,3 miljard Square Kilometre Array (SKA) te huisves, is goeie, gesonde mededinging.
Me. Ann Harrap, Australiese hoë kommissaris in Suid-Afrika, het Donderdagaand aan Rapport gesê haar land glo “natuurlik” hulle het die beter bod om die wêreld se magtigste radioteleskoop te huisves. “Dis mos ’n kompetisie.”
“Ons moet onthou dit gaan uiteindelik oor die wetenskap en nie oor kwessies wat aan die hartsnare pluk nie,” het sy bygevoeg.
Sy het verwys na die week se herrie nadat mnr. Chris Evans, Australiese minister van wetenskap en tegnologie, gesê het Europa, wat die teleskoop gedeeltelik sal finansier, is simpatiek teenoor Afrika en het “ ’n behoefte om te help”.
Evans se kommentaar het gevolg nadat ’n groep senior lede van die Europese parlement onlangs Afrika (Suid-Afrika en agt ander lande) se bod in ’n ope verklaring gesteun het.
Wetenskaplikes en kommentators in Suid-Afrika beweer Evans het Afrika ’n politieke knou toegedien om Australië se bod ’n hupstoot te gee.
Dr. Michael Cherry van die Universiteit van Stellenbosch het aan Rapport gesê die “politieke stryd” is dalk ’n bohaai oor niks aangesien ’n wêreldwye tekort aan geld die projek kan kelder. Suné Kitshoff