Switsers wil ruimte met ‘stofsuier’ skoonmaak

’n Switserse maatskappy wil binne vyf jaar die eerste ruimte-“stofsuier” opstuur om die hemelruim bokant ons koppe op te ruim.

Die ruimtetuig, CleanSpaceOne, gaan ou satelliete en ander stukke ruimterommel wat mense in wentelbane om die aarde agtergelaat het, gryp, inkatrol en dan in die boonste atmosfeer laat uitbrand, berig die tydskrif Science.

Die Amerikaanse ruimte-agentskap Nasa skat daar is ’n paar miljoen stukke ruimterommel wat om die aarde rondtol. Net omtrent ’n halfmiljoen stukke is groot genoeg om deur Nasa gemonitor te word. Dit sluit in sowel ou satelliete wat in onbruik verval het as kleiner stukkies gereedskap wat deur mense daar agtergelaat is.

Hoewel van dié ruimterommel baie klein is, trek dit meestal teen ’n spoed van meer as 28 000 km/h – genoeg om erge skade aan te rig aan enige satelliet of ruimtetuig wat daardeur getref word.

In 2009 het ’n aktiewe kommunikasiesatelliet en ’n ou Russiese satelliet teen ’n spoed van sowat 42 000 km/h teen mekaar gebots.

CleanSpaceOne, wat deur die Switserse maatskappy Polytechnique Fédérale de Lausanne vervaardig word, sal na verwagting sowat R85 miljoen kos.

“Die Switsers is ’n nasie wat daarvan hou om dinge netjies te hou,” sê mnr. Volker Gass, direkteur van die Switserse Ruimtesentrum.

Kommer oor die toenemende hoeveelheid ruimterommel neem al geruime tyd toe, sodanig dat me. Hillary Clinton, Amerikaanse minister van buitelandse sake, dit verlede maand as ’n bedreiging vir ruimteverkenning bestempel het.

Een persoon in Suid-Afrika wat heelwat van ruimterommel hoor, is mnr. Henk Swanepoel, ’n amateur-sterrekundige wat in Smithfield in die suide van die Vrystaat ’n klein ruimtestasie bedryf.

Swanepoel het twee groot satellietskottels, waarmee hy tekens van intelligente lewe in die ruimte soek.

As deel van sy navorsing ontvang hy daagliks data van die Noord-Amerikaanse lugruim-verdedigingsagentskap Norad, wat die meeste mensgemaakte voorwerpe, insluitende ruimterommel, bokant die aarde dophou. (Sodoende kan Swanepoel enige seine wat hy vanuit die ruimte kry met Norad se inligting vergelyk om seker te maak dit is nie mensgemaak nie.)

“Daar is ’n groot klomp rommel daarbo. China het byvoorbeeld in 2007 een van hul eie satelliete met ’n missiel opgeblaas net om te sien wat gebeur. Al daai rommel vlieg nou daarbo rond.

“Baie daarvan is te klein vir my om op te tel – ’n spanner of ’n ou handskoen.

“Die klein stukkies rommel vlieg teen duisende kilometer per uur. ’n Dingetjie die grootte van ’n albaster kan ernstige skade aan ’n ruimtetuig aanrig.”

CleanSpaceOne sal voorlopig slegs groot stukke ruimterommel, soos ou satelliete, opruim.