‘
So, wat ek eintlik vir jou wil sê,en ek dink jy verstaan al weernie wat ek wil sê nie, want te minmense verstaan my! Verstáán jy?’
Om ons, in Peter de Villiers se skemer sitkamer, lê sy stortvloed woorde al kniediep.
Hy voel ’n bietjie waardeloos “ná die Bok-job”, die media (“mín menswees in baie joernaliste!”) verstáán hom nie, hy preek, hy filosofeer, hy raas soos Wolf by die varkies se huis.
In sy rugbybroekie, wydsbeen oor ’n koffietafel, rooioog nog van sy middagslapie.
Legende in sy eie rustyd.
Rugby, sê hy, het hom so bekend gemaak, “nè, ek kan oorsee loop en almal herken my”.
Maar die lekkerste van als: Álmal noem hom coach.
Bafana Bafana, ’n netbalspan; álmal “howzit, coach” hom.
“So, die mense daarbuite aanvaar dat hulle deur my ge-coach kan word!
“Wat ek ook al vir hulle sê, weet hulle, gaan vir hulle waardevol wees.
“Jô. Weet jy hoe great is daai!”
Die Here het hom rugby gegee om sy roeping te vervul. Maar rugby is nie sy lewe nie. Dis déél daarvan. En hy’s suur oor niks, spyt oor niks. Dis wat hy gekies het.
“As jy wil hê wat jy wil hê, kan jy moontlik verkeerd kies aan die einde. Verstaan? Maar wát jy kry, is bedoel vir jou.”
Wat De Villiers gekry het, is die Springbok-span. Wat hy gekry het, is ’n kwarteindloesing in die Wêreldbeker. En die rug van die rugbypubliek.
Dis maar soos dit gaan.
Soos Don Lucchesi sê: Dis nie persoonlik nie ...
Maar vir De Villiers is dit.
Van Dag Een af al.
Toe Saru-president Oregan Hoskins openlik gesê het Div se aanstelling was nie “heeltemal om rugby-redes” nie, want Saru het die transformasie-kwessie “baie ernstig” in ag geneem.
Sy lippe trek dun onder daai formidabele snor.
“Wat Hoskins van my gesê het, is in elk geval wat mense ook nog altyd van hóm glo.
“Als wat ek die vier jaar gedoen het, is afgemaak daaraan.
“En die ergste? Dat een van mý mense (Hoskins) nie sy eie mense die geleentheid gun om ’n verskil te maak nie.”
Dit was seer, sê hy.
“Al wat gehelp het, was om die groter prentjie te onthou: Hoe my beste vriend langs my doodgeskiet is in die riots. Hoe ek sekere tye van die dag nie op die dorpsypaadjie kon stap nie. Hoe ’n ongekwalifiseerde tweestuk-draende safaripak-ou my ma-hulle uit die dorp kon sit.”
Peter het ’n paar keer amper weggestap van die Bok-pos. Wou dit gaan teruggee vir die wittes, soos hy gesê het.
Hy het Job gelees, die klappe gevat, “anner wang gedraai vir die neerhálendheid”, die byname.
“Ek het baie alleen gestaan.”
Eensaam?
Hy knik somber in die skemer vertrek.
“Die Here het my vir výftig jaar voorberei vir dié eensame job.”
As kind was sy ouerhuis altyd vol maats, want sy ma kon goed koekbak, vertel hy.
Maar dit was sy susters en broers se vriende, hy’t self nie vriende gehad nie. Ook nie as onderwyser nie, ook nie as provinsiale rugbyspeler nie.
Nooit.
“Ek het die Here ge-challenge: Hoekom het ek nie vriende nie? Nooit ’n antwoord gekry nie, tot dié eensame job gekom het.”
Hy’s trots dat hy in dié vier jaar nooit politiek gespeel het nie, nooit ’n speler in die media gedrop het nie, nooit met oorsese unies onderhandel het vir ’n afrigtingspos terwyl hy Bok-coach was nie, al beteken dit die poste is nou reeds gevul en hy’s droëbek en werkloos.
“SA Rugby het áltyd vir my eerste gekom. Dis hoekom ek so geliefd is.”
Op mediakonferensies gee afrigters altyd een van drie antwoorde, maar nie hý nie, sê hy.
“By my kry hulle die vierde antwoord. Verstaan? Maar omdat hul kapasiteit nie sterk genoeg is nie, kon hulle nie die vierde antwoord verwerk nie!
“Hulle kon nie verstaan nie. Hulle kan hulsélf nie verstaan nie!”
Die gespot oor sy snor en sêgoed? Sy “snorismes”?
“Net die wit joernaliste doen dit! Dis ’n manier om te wys ons is nie goed genoeg nie!”
Oor die opslae ná sy Peter-prekie van die arme Josef wat tussen die put en die paleis soveel k*k opgetel het: “Vir enigeen met ’n klein bietjie verstand is dit ’n lewensles. ’n Lewenslés!”
Die ergernis slaan hoog deur in sy stem.
En die lewensles van sy eie telbord as afrigter? 60,4% toetswenne is “nie goed genoeg nie”, sê daai selfde joernaliste ...
“Einstein en daai lot het nie een matriek geslaag nie, man! So wat beteken 60% as jy hoop in mense se lewens gebring het? Huh?” korrel hy.
Maar hy hét die Wêreldbeker laat val. Hy vat volle verantwoordelikheid daarvoor, sê Div.
“Maar dit maak my nie ’n swakker coach of mens nie. Ons het alles so goed beplan. Net een ding verkeerd gedoen: nie die skeidsregter gekies nie.”
Bryce Lawrence. Arrogante klein bliksempie, brom hy onder sy snor.
En John Smit? Hoekom het hy hom blý kies?
“Gelukkig het ek nie nodig om jou ’n antwoord te gee nie, maar ek gaan. Kan jy vandag eerlik sê John was die oorsaak dat ons daai game verloor het? Nee. Hy’t daai dag so goed gespeel, ek het getwyfel of ek hom moes afhaal.”
Bokrugby mag vir Peter nou verby wees, maar van onse Snorman het Suid-Afrika nog nie die laaste gesien nie.
Hy’t potente planne. Hy gaan nou siele coach vir die Here.
Twee weke terug was hulle ’n selgroep van nege ouens. Verlede week was daar 16. Dié week skuif hulle van sy huis af na ’n saal, vertel hy en energie straal uit sy lyf. Teen Kersfees gaan 5 000 mans in die Paarl opstaan vir hulself, hul regmatige plek in die lewe inneem.
À la Angus Buchan?
“Néé! Angus is ’n man op sy eie. Peter de Villiers is ’n man op sy eie. Peter de Villiers is maar net ’n baie goeie mens wat ’n Springbok-afrigter geword het.”
Die Here het die begeerte in sy hart gelê, “dat ons mans verantwoording vat vir wat ons is”.
Hulle’t nog nie?
“Nee. Die man moet terugbeweeg na die Bybel se riglyne.
“Hy’s leier van die huis, al verloor hy sy werk. As jou vrou die broodwinner is, maak dit jou nie minderwaardig nie. As jy by die voordeur instap, is jy die hoof. Sy moet na jou luister.”
Einde vanjaar, belowe hy, is die Paarl die voorloper in die verandering van Suid-Afrika.
Peter en Buchan praat elke tweede, derde dag. “Ek dink hy’t my hart gesien, my talente. Hy’s nie so krities soos ander mense nie, hy aanvaar my.”
Hy weet nie of dit nou sy roeping is nie, sê hy, ’n blinkigheid in sy oë.
“Ek het nie teologie gestudeer nie, maar een ding weet ek: Jesus is die antwoord. Soggens vyfuur is ek op, en sit ek maar hierso binnekant met my Bybel en wag vir die Here om met my te praat.”
Net die Here.
Mense, plekke beïndruk hom niks.
Toe Pelé eenkeer in dieselfde hotel was, vra hulle vir Peter of hy hom wil ontmoet.
“Vir wát? Net as hy my kan inspireer, nie oor hy Pelé is nie!”
Nooit één foto geneem op sy Bok-toere nie. Fancy hotelle en goue krane doen dit nie vir hom nie.
Hy wys om hom. “Dié huis is mooier as enige hotel. Weet jy hoekom? Dis met liéfde hier gesit. Al die kaste het ek sélf gebou. My huis, mense en al, is ’n rolmodel. Kinders stap verby en sê: ‘Wow, ek gaan vir my ook eendag so ’n huis kry.’
“Dís wat tel.”
Hy’t ’n aanbod gehad om in Plattekloof te gaan bly, “maar ek sal nooit my bure die voorreg ontneem om langs ’n Bok-coach te bly nie”.
Hy gaan wys ons sy huis.
Dié het sedert die Wêreldbeker ’n gedaanteverwisseling ondergaan.
Die motorhuis is nou ’n gitswart, topklas-vermaakkamer, die swembad-dek strek van heining tot heining, die badkamer is pure Top Billing.
Die trots slaan uit in hoë oktawe. “Wêreldsgoed, maar my kinders is nie skaam om hul vriende hierheen te bring nie, so jou huis word ’n hawe.
“Dís wat tel.”
In die voorportaal gaan staan ons stil. Hy vertel van die laagste oomblik in sy lewe. Toe sy vrou hul tweeling-dogtertjies in ’n miskraam verloor het.
Daarteenoor is die skerwe van sy Wêreldbeker-droom niks.
Maar tog ...
Hy’s mededingend in álles, kla hy amper. Nog altyd. Kindsdae, as hy saans gaan brood koop, dan’t hy resies gehardloop met die karre, van lamppaal tot lamppaal. Nagdeur gesukkel tot ’n blokraaisel kláár was. “Selfs roomys-eet – ek moes altyd vóór my twee broers klaar wees.”
’n Wow-oomblik in sy lewe is uit sy eie hulpeloosheid gebore.
Net ná die skokneerlaag van die Bokke in die WB-kwarteind het hy met ’n mond vol tande by sy koponderstebo spelers gestaan.
Verslae. Verslaan.
Hy moes iets sê wat hulle kon laat aangaan, nie met rugby nie, maar met hul léwe.
“En toe tel ek hulle op met my woorde.”
Hulle het hom verstáán, hierdie man wat so baie misverstaan word.
Ons stap uit op sy tuintjie by die voordeur. Nuwe plaveisel, ’n bankie, ’n beeldjie, pers petunias. Als self uitgelê, wys hy tevrede.
Soggens vroeg kom staan hy hier in die oop voordeur. Spuit sy plantjies nat. En dan kom die son op oor die berg en in daardie eerste strale blink die druppels op die blare, so helder, so mooi.
Dis ’n halleluja-oomblik vir Peter de Villiers. Dan gospel sy hart.
Dis waar ons hom groet, in die aandskemer, leunend teen die kosyn.