Gewoonlik is bekendes bekommerd oor ’n boek waarin hul eks alles uitlap oor ’n mislukte verhouding, maar in Angelina Jolie se geval moet sy eerder bekommerd wees oor ’n fliek.
Haar tweede eksman, die akteur Billy Bob Thornton, beplan blykbaar ’n fliek wat sy huwelik met dié gewilde Hollywood-superster as grondslag het.
Alexander Rodnyansky is die vervaardiger van Thornton se nuwe fliek, And Then We Drove.
’n Bron na aan Rodnyansky het aan die bedryfstydskrif Variety bevestig dat Thornton se romanse met Jolie die grondslag van dié rolprent vorm.
“Die fliek is op baie terreine op sy (Thornton se) persoonlike ervaring geskoei,” het Rodnyansky verklaar.
Verfilming begin na verwagting later vanjaar.
Volgens Thornton handel die fliek oor ’n man op toer wat langs die pad ’n meisie oplaai en oor alles wat daarna met hulle gebeur.
“Dit gaan oor die groot vraag in die lewe, naamlik: Waar pas ek in?” het Thornton gesê.
Thornton (56), wat al vyf keer getroud was, is in 2000 in Las Vegas met Jolie (nou 36) getroud nadat hulle die vorige jaar saam in die fliek Pushing Tin verskyn het.
Hulle is in Junie 2002 uitmekaar en in 2003 amptelik geskei.
Die egpaar was bekend vir hul vryery in die openbaar. Hulle het selfs elkeen ’n glasbuisie met die ander een se bloed daarin aan hul nek gedra.
Jolie het sedertdien liefde gevind by die Hollywood-hartebreker Brad Pitt.
Hul verhouding het in 2005 groot opslae gemaak toe sy daarvan beskuldig is dat sy die rede is hoekom Pitt en Jennifer Aniston geskei is. Jolie en Pitt het saamgewerk aan die fliek Mr. & Mrs. Smith.
Die paartjie het stilgebly oor hul verhouding totdat Jolie in Januarie 2006 aangekondig het sy is swanger met Pitt se kind.
Hulle het drie aangenome kinders – Maddox, Pax en Zahara – en drie biologiese kinders – Shiloh, Knox en Vivienne.
Jolie was voorheen ook met die Britse akteur Jonny Lee Miller getroud. Hulle is in Maart 1996 getroud en in Februarie 1999 geskei.Karin Burger; Bron: www.entertainmentwise.com