Aneurisme lei tot premier se beroerte

Me. Hazel Jenkins, premier van die Noord-Kaap, het eergisteraand ’n beroerte gehad toe sy tydens haar provinsiale rede in Kimberley ineengestort het.

“ ’n Ondersoek het gisteraand (Vrydag) getoon die premier het weens ’n aneurisme-skeuring in haar brein ’n beroerte gekry. Sy is dieselfde aand deur ’n span neurochirurge geopereer,” het mnr. Mafu Davids, Jenkins se woordvoerder, gister gesê.

“Sy is nou wakker en haar toestand is stabiel. Die spesialiste is gelukkig met haar vordering.”

Davids kon nie uitwei oor die omvang van die skade wat die beroerte veroorsaak het nie.

Jenkins was halfpad deur haar provinsiale rede van 26 bladsye toe sy die beroerte gehad het. Sy het skielik ’n paar woorde geprewel, gewieg en toe na regs geval, het Volksblad berig.Sapa