Selebi ontslaan, weer terug in tronk

Die voormalige polisiekommissaris Jackie Selebi is die afgelope week uit die hospitaal ontslaan en oorgeplaas na die Pretoria-Sentraal-gevangenis.

Mnr. Zachary Modise, adjunkkommissaris van korrektiewe dienste, sê Selebi is Dinsdag van die nefrologie-eenheid van die Steve Biko- Akademiese Hospitaal na ’n sel in die gevangenis se hospitaal-eenheid geskuif.

“Hy is beter as wat hy was toe hy in die hospitaal opgeneem is, maar ek kan nie sê tot watter mate nie. Hy is egter nog op dialise,” sê Modise.

Selebi sal in die tronk-hospitaal deur twee opgeleide verpleegsters vir sy diabetes en niersiektes gemonitor word. Hy is glo ook opgelei om self sy behandeling toe te dien. Jacques Steenkamp