Johannesburg. – Die meeste van die werkers wat by die Impala-platinummyn in Rustenburg staak, het die naweek af gevat.
“Daar is niks nuuts wat by die myn gebeur nie. Ek dink die stakende werkers het waarskynlik almal huis toe gegaan vir die naweek,” het brig. Thulani Ngubane, polisiewoordvoerder in Noordwes, gister gesê.
“Ons verwag dat hulle môre sal voortgaan met hul betogings as die staking voortduur.”
Daar was die naweek ’n sterk polisieteenwoordigheid in Rustenburg en die omliggende omgewing om te verseker dat reg en orde gehandhaaf word, sê Ngubane.
Ses werkers is Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle glo ’n drankwinkel naby die myn geplunder het. Die situasie by die myn was Donderdag gespanne toe meer as 100 werkers gearresteer is ná gewelddadige betogings. Sapa