’n Jong vrou het gister die sluier gelig oor ’n voorval waarin sy beweer sy verkrag is deur ’n top-ANC-parlementslid en die man wat die leidende krag agter die voorgestelde en omstrede mediatribunaal is.
Mnr. Sikhumbuzo Eric Kholwane (39), voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie, is net voor Kersfees in hegtenis geneem. Sy inhegtenisneming op die verkragtingklag het egter eers die afgelope week bekend geword toe hy weer op Valentynsdag in die hof moes verskyn.
Die 26-jarige klaer het aan Rapport gesê sy is in Desember verkrag nadat sy en die beskuldigde stry gekry het oor hul verhouding.
Sy het in Junie verlede jaar ’n miskraam gehad en volgens haar was hy die vader van die kind.
Kholwane het Vrydag aan Rapport gesê hy is in kontak met die ondersoekbeampte en hy het Woensdag ’n bloedmonster ingehandig.
Kholwane het genoem hy het in die media gelees die klaer in die saak is ’n vriendin van hom. Hy sê hy is verbaas oor dié stelling.
Dr. Mathole Motshekga, ANC-hoofsweep in die parlement, sê hy het nie die besonderhede van die klag teen Kholwane nie, maar hy het ’n vergadering met hom belê. “Ons het ’n kultuur dat jy onskuldig is tot jy skuldig bewys word.” Jacques Dommisse en Andrew Trench