Llewellyn Prince in Johannesburgllewellyn.prince@media24.com
Die nasionalisering van myne sal ’n enorme ekonomiese ramp vir Suid-Afrika en ál sy inwoners wees.
So lui die navorsingsverslag wat die ANC laat saamstel het om die lewensvatbaarheid van die plan te toets.
Dié verslag, gegrond op navorsing in verskeie lande, verwerp die nasionalisering van myne ten sterkste.
Die dokument, “Maximising the Developmental Impact of the People’s Mineral Assets: State Intervention in the Minerals Sector”, is Vrydag deur die ANC aan die publiek beskikbaar gestel.
Dit was net ’n dag nadat die ANC- jeugliga, die grootste voorpraters vir die nasionalisering van myne en die onteiening van grond sonder vergoeding, weer by Luthuli-huis, die ANC-hoofkantoor, die verslag verwerp het.
Die jeugliga het hiertydens ook aangedui dat hy nou sy eie navorsingsverslag oor nasionalisering sal laat opstel.
Mnr. Pule Mabe, tesourier-generaal van die jeugliga, het gesê die jeug sal genoeg feite bymekaarmaak om die kwessie in Junie suksesvol op die ANC se beleidskongres te argumenteer.
Me. Kenetswe Mosenogi, adjunk- sekretaris-generaal van die jeugliga, het bygevoeg die jeugliga het vroeër Zimbabwe, Venezuela en ander lande besoek om te kyk hoe nasionaliseringsmodelle daar toegepas is. Dié inligting sal nou vir hul verslag gebruik word.
Luidens die ANC-verslag sal sowel algehele nasionalisering as die verkryging van 51% in elke mynmaatskappy teen markwaarde heeltemal onbekostigbaar vir Suid-Afrika wees en die land in ’n situasie plaas waar hy sy fiskale soewereiniteit sal verloor.
“Daarbenewens het Suid-Afrika ook handels- en beleggings(beskermings)-ooreenkomste met die meeste van die lande waarvan die hoofaandeelhouers in Suid-Afrikaanse mynmaatskappye burgers is. Hulle sal vergoeding teen markwaarde vereis.”
Die hoofspeler hier is Brittanje, waar maatskappye soos Anglo-American, De Beers, Lonmin en BHPB gesetel is.
Die verslag lui verder dat nasionalisering ook ’n grondwetlike verandering sal vereis. Dit sal lei tot “ ’n ineenstorting van buitelandse beleggings en toegang tot finansiering, sowel as wydverspreide regsgedinge deur buitelandse beleggers”. Die moontlikheid is groot dat enorme eise uitbetaal sal moet word.
Luidens die verslag is ’n belasting van 50% op winste ’n beter opsie. Dit lui ook die meeste van die lande waar navorsing gedoen is, het ’n staatsbeheerde mynmaatskappy of het een gehad.
Suid-Afrika het reeds op so ’n mynmaatskappy besluit.
; Intussen het die ANC Vrydag aangekondig sy nasionale tugkomitee (NTK) het Donderdagaand sy verhore vir versagting van straf van mnr. Julius Malema, sy geskorste jeugleier, en twee ander jeugleiers afgehandel.
Malema is weens verskeie oortredings vir vyf jaar uit die ANC geskors en het probeer om die straftydperk te laat verminder.
Mnr. Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, sê die NTK sal binnekort sy bevindings bekend maak.
Die jeugliga het egter Donderdag ’n besluit van sy onlangse lekgotla herbevestig dat Malema en die ander leiers nie hul poste in die jeugliga sal verlaat nie, al is hulle uit die moederliggaam geskors.
; R1 triljoen:
Die koste van 100% van alle gelyste mynmaatskappye in Suid-Afrika; meer as die land se begroting.
; R500 miljard:
Die koste van 51%, of ’n beherende aandeel, in elkeen van die gelyste mynmaatskappye.