MARIZANNE KOK IN JOHANNESBURGmarizanne.kok@sport24.co.za
Suid-Afrika se voorste swemmers sal die eer van die reënboogvlag aanstaande jaar in ’n drienasies-reeks teen Australië en China verdedig.
Shaun Adriaanse, uitvoerende hoof van Swem Suid-Afrika (SSA) het die afgelope week aanRapport gesê die swemliggame van dié drie lande het verlede jaar ’n ooreenkoms gesluit waarvolgens hul beste swemmers vir die volgende drie jaar teen mekaar sal deelneem. Altesame 40 Suid-Afrikaners sal in Januarie 2013 na Perth reis vir dié nuwe uitdaging. Die kompetisie sal ook in 2014 en 2015 plaasvind en volgens Adriaanse word steeds gewik en geweeg oor 2016, omdat dit ’n Olimpiese jaar is.
“Dis ’n wonderlike geleentheid vir ons, want dit gee ons heel beste swemmers nóg ’n kans om teen wêreldklas-teenstanders deel te neem – én ons kan belowende jongelinge stuur om ervaring op sulke taai kompetisies op te doen,” het Adriaanse gesê. “Ons sal ’n volsterkte span daarheen stuur en dit kan ’n belangrike deel uitmaak van ons opbou na die Olimpiese Spele van 2016.”
Die Chinese en Australiërs is albei ysters in die swemwêreld. China het op verlede jaar se wêreldswembyeenkoms in Shanghai tweede geëindig, danksy sy vyftien goue medaljes.
Hoewel die Aussies nie meer so sterk is as ’n paar jaar gelede nie, het hulle steeds 16 medaljes in Shanghai verower en algeheel sewende geëindig.
; Intussen het Adriaanse bevestig dat hulle in gesprek is met Telkom, SSA se borg van die afgelope vyftien jaar, om hulle betrokke by dié sport te hou.
Telkom het in Desember, enkele dae voor hul kontrak met SSA verstryk het, laat weet dat hulle nie die ooreenkoms wil hernieu nie.
Volgens Adriaanse is die tekens egter bemoedigend dat dié kommunikasie-reus van plan sal verander.
“Ons is optimisties, maar het ook al met ander potensiële borge gesels,” het hy gesê.