eduan roos in johannesburgeduan.roos@sport24.co.za
Die Suid-Afrikaanse krieketspan is eergister, in die eerste van drie Twintig20-wedstryde teen Nieu-Seeland, nie net óp die veld verrinneweer nie – die Proteas is ook erg geboelie aan die ánder kant van die grenstou.
Verskeie spelers het gister aan Rapport vertel hoe dié jong toerspan “onophoudelik gevloek en beledig is” deur toeskouers in die Westpac-stadion in Wellington, waar die Kiwi’s met ses paaltjies geseëvier het.
Dié kragmeting, die eerste tussen die lande sedert die Suid-Afrikaners se dramatiese nederlaag in die kwarteindronde van verlede jaar se Wêreldbekertoernooi, is gekenmerk deur verskeie onderonsies waarin veral die tuisspan se snelbouler Tim Southee betrokke was.
“Die Nieu-Seelanders het dit duidelik gemaak dat dié nie ’n maklike toer gaan wees nie, want hulle het hoegenaamd nie teruggehou met hul beledigings nie,” het een speler gesê.
“Veral die ouens wat op die grens veldwerk gedoen het, is vreeslik lelik gevloek.”
Dít volg nadat die Suid-Afrikaners vroeër ingestem het om in Canterbury in ’n liefdadigheidswedstryd teen die Wizards te speel.
Mohammed Moosajee, die Proteas se spanbestuurder, het vandeesweek gesê alle inkomste uit dié kragmeting – waarvan die kaartjies uitverkoop is – sal geskenk word om krieketgeriewe te herstel ná verlede jaar se verwoestende aardbewing in Christchurch.
Volgens Moosajee het al die Proteas ook hul getekende speelhemde laat opveil.
“Die Nieu-Seelandse krieketraad (NZC) het ons gevra om deel te neem aan dié wedstryd en elkeen van die spelers het gemeen dis vir ’n goeie saak – veral aan die vooraand van die eerste herdenking van die aardbewing,” het Moosajee vroeër gesê.
Die Suid-Afrikaanse span, van wie die meerderheid spelers nog nie voorheen in Nieu-Seeland getoer het nie, het dié wedstryd Woensdag in die Hagely-ovaal met 20 lopies beklink.
Na verneem word is die spanbestuur reeds ingelig oor die voorvalle, maar het hulle besluit om dit “vir eers” nie verder te voer nie.
“Die beste manier om te reageer is waarskynlik deur hulle te klop in die volgende wedstryd, want dan kan ons self ’n woord of twee in hul ore fluister,” is aan Rapport gesê.
Suid-Afrika se laaste toer na Nieu-Seeland, bykans agt jaar gelede, is ontsier deur verskeie pogings van die Kiwi’s om hulle van stryk te bring.
; Intussen het AB de Villiers, die Proteas se blitskaptein, gister ’n beroep gedoen op sy span om veel beter te vertoon wanneer die tweede blitsstryd vroeg vanoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in Hamilton begin.
In Wellington het De Villiers-hulle se onvermoë om gereeld grenshoue te slaan, veroorsaak dat die Proteas ’n karige telling van net 147 kon vermag.
Net JP Duminy (41), Justin Ontong (32) en Albie Morkel (13*) kon hond haaraf maak teen Southee (3/28) en Nathan McCullum (1/16).
Hul boulers se gebrek aan bestendigheid het die span daarna ook duur te staan gekom.
“Dit was glad nie ’n goeie manier om die toer te begin nie en ek aanvaar volle verantwoordelikheid daarvoor,” het De Villiers agterna gesê.
“Ons het dinge aanvanklik moeilik vir onsself gemaak met die kolf, maar later stewig teruggeveg. Daar was tye dat ons goed gespeel het, maar ons moet dit in die volgende wedstryd van begin tot einde volhou.”