Cheetahs se eie Cooper nou sy giftigste angel

Johan Goosen.

Dis ’n naam wat die uwe en mediamanne landwyd waarskynlik nog baie in die Super-rugbyreeks gaan neerpen.

Die jong generaal kan nie net ’n reuse-invloed op die Cheetahs se sukses in ’n kritieke jaar hê nie, maar straks ook op Springbok-rugby.

Die voormalige Bok-losskakel Braam van Straaten het onlangs aan Sport24 gesê Goosen is ’n Quade Cooper in wording. Volgens die skopafrigter van Australië kan die Goose selfs beter as Cooper word, aangesien hy ’n beter skopvoet en verdediging as die Aussie-towenaar het.

Hoewel hy slegs 19 jaar oud is en Saterdag teen die Lions sy Super-buiging sal maak, is Goosen beslis die speler wat die grootste invloed op die Cheetahs se sukses sal hê. Die streekspan se Boere-Cooper het ’n kanonpoot nes Frans Steyn, kan die lyn breek wanneer hy wil en is nie bang om grotes te lak nie.

Natuurlik sal die Bok-flank Heinrich Brüssow ook ’n invloed hê. Dié baljagter het die afgelope twee jaar weens beserings min Super-rugby gespeel, maar wanneer hy op die veld is, beskik die Cheetahs oor een van die gevaarlikste wapens ter wêreld by die afbreekpunte.

Die beseerde Bok-flank Juan Smith sal hopelik ná sy span se oorsese toer terugkeer. Met Smith wat van voor lei, speel die sentrale streekspan feitlik altyd beter.

Een van die aspekte waarna die Cheetahs vanjaar werklik moet oplet, is hul verdediging. Dis ál hoe hul doelwit van ’n plek onder die voorste ses spanne ’n werklikheid kan word.