STEPHEN NELL in KAAPSTADstephen.nell@sport24.co.za
As dit waar is dat verdediging toernooie wen, behoort daar ’n goeie kans te wees op die Super-triomf waarna die Stormers steeds smag.
Ondanks Rassie Erasmus se besluit om sy pos as direkteur van afrigting by die Westelike Provinsie te los, is die strukture steeds in plek vir die Kapenaars om voort te bou op die goeie werk van 2009 en 2010.
Dit sal ’n verrassing wees as verdediging nie weer die fondament is waarop gebou word nie – en die Stormers het hulle die afgelope twee seisoene onderskei as ’n span wat teenstanders éérs kan versmoor en dan tot oorgawe dwing.
Kommerwekkend is dat twee sleutelspelers in hul wedstrydplan – die Springbok-senter Jaque Fourie en -flank Francois Louw – hul rugby nou oorsee speel.
Dit laat wel die deur oop vir talentvolle jong spelers om na vore te tree.
Juan de Jongh was verlede jaar net te dikwels ’n toeskouer op die Stormers se plaasvervangerbank en behoort nou die geleentheid te kry om gereeld die nr. 13-trui te dra.
Dit is bekend dat die Stormers se breier, Allister Coetzee, se voorste lostrio Schalk Burger, Duane Vermeulen en Nick Koster sal wees. Dit beteken waarskynlik dat Vermeulen as ’n flank ingespan sal word, met Koster as agtsteman. Siya Kolisi is egter die ontluikende losvoorspeler-talent wat dopgehou moet word.
Daar is spelbreker op spelbreker in die agterlyn, met Jean de Villiers, De Jongh, Gio Aplon, Bryan Habana en Gerhard van den Heever wat almal die “x-faktor” het.
Die Stormers se sterkpunte bly egter die werk wat hulle as eenheid doen, en die beginsel waarop Coetzee aandring, van veldgebied oorheers en dan van daar af lanseer.
Andries Bekker se vermoë om teenstanders se lynstane te ontwrig en sy pad oor die veld te vind, bly ook vir die Kapenaars ’n yslike troefkaart. Rynhardt Elstadt sal saam met hom weer ’n gedugte slotpaar uitmaak, terwyl De Kock Steenkamp en Eben Etzebeth diepte van gehalte gee.
Die Springbok-stut Deon Carstens was ’n belangrike aanwins vir die voorry. Dis wel ’n verrassing dat die Westelike Provinsie besluit het om vir CJ van der Linde te laat gaan. As daar een groot bekommernis is, is dit die probleme wat beserings aan stutte kan besorg.
Diepte is ’n probleem, maar met ’n bietjie geluk kan die beserings in sleutelposisies wegbly en die Stormers ’n ernstige aanspraakmaker wees.
Met hul beproefde verdedigingstelsel sál hulle met die voorste spanne saamgesels.