J.J. HARMSE IN PRETORIAjharmse@sport24.co.za
Dit is nog nie tyd vir ’n stormloop nie, maar daardie blinkerige stukkie klip wat die Bulls verlede week teen die Cheetahs in Polokwane opgetel het, kan net ’n prospekteerlisensie regverdig. Rykdom is dalk net om die draai.
Die 2012-groep dra lig aan verwagtinge ná nie minder nie as sewe van hul mees ervare spelers die Bulls-kraal verlaat het en nog een of twee ander hul stewels opgehang het. Jy vervang nie Victor Matfield, Bakkies Botha, Danie Rossouw, Gary Botha, Gurthrö Steenkamp, Jaco Pretorius en Fourie du Preez in ’n dekade nie, wat nog te sê in ’n seisoen.
Tog het die Bulls die potensiaal om vanjaar se seisoen ’n goeie een vir hul ondersteuners te maak. Vir ’n span wat sedert 2005 drie titels gewen en slegs in 2008 en 2011 nie die halfeindstryd gehaal het nie, is die druk om te presteer altyd groot – maar selfs die gehardste ondersteuner besef dat vanjaar se groep net toegelaat moet word om te speel.
En speel gaan hulle spéél.
Agterlangs is daar drieë wat wag om gedruk te word. Bjorn Basson is die voorste driedrukker in plaaslike rugby, JJ Engelbrecht lyk slaggereed vir sy deurbraakseisoen en Johann Sadie borrel oor van buitegapings en die vernuf om spelers in spasie te plaas.
En wat sê mens van Francois Hougaard se onbetwiste vermoë om die spel oop te ruk?
Voeg daarby die dikwels onderskatte spilpunt van Morné Steyn en Wynand Olivier en ou hande soos Zane Kirchner, Akona Ndungane en Jano Vermaak se geheuestoor van die groot oomblik en dit is duidelik dat net ’n dwaas die Bulls se aanslag sal aflag.
Met al die plofkrag agterlangs is die druk eerder voorlangs, want skep dié harde werkers ruimte en tyd, sál daar agterlangs baljaar word.
Kan die Bulls se pak egter daardie voorvoet verseker? Die kern van sy pak dra swaar aan belofte, met slegs Juandré Kruger wat nog nie ’n Springbok is nie.
Slegs Pierre Spies is egter gevestig as toetsspeler, maar Werner Kruger, Dean Greyling, Flip van der Merwe, Dewald Potgieter en Deon Stegmann het almal toetsrugby geproe en dit gaan hulle beter Super-spelers maak.
Diepte bly altyd ’n probleem, maar dié aspek sal nooit ’n faktor wees in ’n span wie se sukses die beste jong spelers in die land aantrek nie. CJ Stander, Arno Botha, Francois Venter en Louis Fouché wag geduldig in die agtergrond.
Die ster van die span gaan egter Chiliboy Ralepelle wees. Dit is sy tyd. Soos dit maklik sy span s’n kan wees.