Die Waratahs het vir Sarel Pretorius (foto) bygekry en met 12 Wallabies in hul groep sal hulle oudergewoonte ’n Aussie-span wees om mee rekening te hou.
Daar is selfs diegene wat glo die Waratahs sal die Aussies se voorste span wees.
Die wyse waarop hulle Samoa uitmekaar geskeur het in ’n oefenwedstryd en met 83-5 gewen het, wys dat die Aussies se Ligbloues nie ligtelik opgeneem kan word nie.
Hulle het egter reeds ’n groot terugslag beleef met die nuus dat die vleuel Lachie Turner ’n groot deel van die seisoen sal misloop weens ’n geskeurde dyspier. Nog een van hul ster-agterspelers, Drew Mitchell, is boonop ook beseer. Hy behoort egter in die tweede of derde week terug te wees.– Christo Buchner