MARIZANNE KOK IN JOHANNESBURGmarizanne.kok@sport24.co.za
Die Pretorianer Merrick Bremner het Fancourt se Outeniqua-baan gister aan flarde gespeel om die laaste ronde van die Dimension Data Pro-Am-toernooi met ’n agterstand van een hou binne te gaan.
Bremner het die derde dag van dié toernooi voltooi met ’n telling van 207 (tien houe minder as baansyfer), ná ’n 63 (-9) wat tien voëltjies en ’n brouhou ingesluit het. Hy is een hou agter die Stellenbosser Oliver Bekker, wat ’n 71 aangeteken het by die Fancourt Links-baan.
Bremner se ysterspel was uitmuntend, en hy het die hele dag net drie setperke nie in regulasie-houe bereik nie.
Maar sy setwerk was ewe goed. Tussen die agtste en dertiende putjies het hy net ses keer geset, en die enigste keer dat hy drie sethoue geslaan het, was toe sy kort sethoutjie vir syfer by die derde putjie uit die blikkie geglip het.
“Ek slaan die bal al vir ’n rukkie baie goed,” het Bremner gesê. “En ek dink my kortspel het die laaste maand of twee met rasse skrede verbeter.”
Bekker se derde ronde by die Fancourt Links-baan het gister swak begin toe hy drie houe binne die eerste drie putjies laat val het, maar hy het sake beredder met drie voëltjies en ’n arend oor die laaste twaalf.
James Kingston, Jean Hugo, Simon Wakefield en Morné Buys is twee houe agter in die gesamentlike derde plek, en die verdedigende kampioen, Hennie Otto, is ’n verdere twee houe agter.