SA wiks Pole

Die Suid-Afrikaanse hokkiespan het sy veldtog om Olimpiese kwalifisering gister op ’n hoë noot afgeskop toe hy Pole in sy eerste wedstryd in Nieu-Delhi met 2-1 geklop het.

Die Proteas het in alle aspekte van die wedstryd die oorhand gehad en ’n yslike 31 keer tot in die doelsirkel gevorder.

Hul verdediging was ook uit die boonste rakke, soos duidelik blyk uit die feit dat Pole net nege keer in die sirkel was.

Die Suid-Afrikaners het egter gesukkel om die bal verby die Poolse doelwagter, Martha Kucharska, te kry en met die rustyd was daar steeds geen doele op die telbord om hul oorheersing te wys nie.

Kucharska se aandeel in dié stand van sake mag nie gering geskat word nie. Die Pool het minstens ’n halfdosyn doele met geïnspireerde keerwerk afgeweer en haar span se moraal in die proses hoog gehou.

Die gety het egter in die tweede helfte gedraai en dit het net vier minute geduur voordat die Kapenaar Kate Woods van ’n korthoek af uiteindelik deur Kucharska se skanse gebreek het.

Maar die Suid-Afrikaners se vreugde was van korte duur, toe Magdalena Zagajska van die volgende afslaan af ’n snydende Poolse beweging afgerond het.

Daarmee was sake gelykop, en dit het so gebly vir die volgende kwartier. Die superster-doelskieter, Pietie Coetzee, was die speler wat die verskil gemaak het, toe sy ’n aangee van haar kaptein, Marsha Marescia, ontvang en met ’n harde knal teen die agterkant van die doelhok vasgeslaan het.

Die Proteas het gister onderstreep hoe goed hulle nou as eenheid vaar en dat al hul kombinasies goed gevestig is. Elke speler het haar deel gedoen, en veral Coetzee, Dirkie Chamberlain, Kathleen Taylor en Marescia was bedrywig in die doelsirkel.