Jbé jag Europese titel

Die Bloemfonteiner Jbé Kruger het ’n goue geleentheid om vandag in Indië sy eerste Europese titel te wen, nadat hy die derde ronde van die Avantha-meesters­toernooi gister in die voortou afgesluit het.

Kruger gaan vandag se laaste ronde binne met ’n voorsprong van een hou oor die Duitser Marcel Siem, Skot Peter Whiteford en Fransman Jean-Baptiste Gonnet. Die 25-jarige Bloemfonteiner het die voortou geneem met ’n ronde van 66 (ses houe minder as baansyfer) wat twee arende en twee voëltjies ingesluit het.

Sy algehele telling van 205 (elf houe minder as baansyfer) plaas hom aan die voorpunt van ’n beknopte groep spelers – net drie houe skei die voorste vyftien op die telbord.

Kruger het die afgelope twee maande ’n rits goeie vertonings in Europese toernooie gelewer, maar sy eerste titel in dié reeks ontwyk hom steeds. Hy is egter vanoggend ’n treëtjie nader daaraan danksy veral twee oomblikke van briljantheid.

Die eerste daarvan was ’n sethou van nagenoeg sewe meter wat hom sy eerste arend van die dag by die sesde putjie van die DLF-buiteklub in Nieu-Delhi besorg het. By die vyftiende het hy nóg ’n arend op sy telkaart ingevul ná hy van die soom van die setperk ingeset het.

“As dit bedoel is om my week te wees, sal dit,” het Kruger volgens die Europese reeks se webtuiste gesê. “Ek wil maar eerder nie te ver vooruit dink nie. Die sethoue moet val, en dis wat die wenner sal bepaal. Ek set die laaste tyd goed, so ek moet net aanhou om die lyne reg te lees.”