Proteas kry angel terug

Ná ’n blaaskans van meer as ’n maand het die Phalaborwa Express uiteindelik die stasie verlaat.

Dale Steyn, die wêreld se voorste toetsbouler, het gister na Nieu-Seeland vertrek om hom by die res van die Protea-toergroep aan te sluit vir die reeks van drie eendagwedstryde en drie toetse teen die Swartpette.

Dié 28-jarige blitsbouler was middel verlede maand – in die voorlaaste kitswedstryd teen Sri Lanka – laas op die speelveld te sien, nadat hy ’n ruskans gegun is vir die Twintig20-reeks teen die Kiwi’s, wat eergister begin het.

Steyn sal reeds Saterdag in die eerste kragmeting in Wellington op die Nieu-Seelandse kolwers losgelaat word . . . en ná die Proteas se hartverskeurende uittog uit verlede jaar se Wêreldbekertoernooi – komplimente van die einste teenstander – is dít nie ’n oomblik te vroeg nie.

“Ek hoop om op my beste te wees in Nieu-Seeland en hoewel ek nie kan voorspel wat daar sal gebeur nie, kan ek waarborg dat my liggaam gesond is en my gedagtes vars. Ek dink dis belangrik,” het Steyn aan Rapportgesê.

Hy het sy toetsbuiging in 2004 teen Engeland gemaak en is nou een van die mees ervare spelers in die afrigter, Gary Kirsten, se span – tog sal dit die eerste keer wees dat hy die Nieu-Seelanders in hul agterplaas pak.

En hoewel die Kiwi’s pas skoonskip gemaak het in hul toets-, kits- én blitsreeks teen Zimbabwe meen Steyn dié span kán daar geklop word.

“Ek het die reekse dopgehou en Nieu-Seeland het maklik met Zimbabwe klaargespeel,” het Steyn gesê.

“Dit gaan moeilik wees, maar hulle is ryp om gepluk te word.”

Steyn meen 2012 is die jaar waarin die Proteas hulself as die nommer een-span in álle weergawes van die spel kan onderskei – en volgens hom loop die pad na die kruin van wêreldkrieket deur die Land van die Lang, Wit Wolk.

“Vanjaar is ’n gróte vir ons. Dit sal fantasties wees om hulle met 3-0 te klop (in die toetsreeks) en as die voorste toetsspan in die wêreld aangewys te word,” het Steyn verduidelik.

“Daar is egter ook nog toere na Engeland en Australië wat voorlê en vir Suid-Afrikaanse ondersteuners is verloor nie ’n opsie nie.

“Dis soms moeilik, maar die ouens verstaan dit. Hel, ons kon heeldag agter ’n lessenaar moes gesit het!”