CHRISTO BUCHNER IN JOHANNESBURGchristo.buchner@sport24.co.za
Elke seisoen is dit dieselfde ou storie: vooraf word daar met opwinding en in afwagting gepraat oor wat die Sharks kan regkry in die Super-reeks – net om ’n lykskouing te hou oor waar dinge verkeerd geloop het, wanneer die kampioen eindelik gekroon word.
Dié seisoen is die vooraf-opwinding weer daar . . . In ’n jaar waarin daar maar min te kies is tussen die Suid-Afrikaanse spanne, kan die Sharks die fakkeldraer wees.
Wat hul spelerskorps betref, het die Durbaniete nie veel verliese gely nie.
John Smit sal beswaarlik gemis word, terwyl die koms van Riaan Viljoen sal vergoed vir die eerste Stefan Terblanche-lose span in donkiejare.
Viljoen is meer van ’n aanvallende opsie op heelagter en dit is juis waarna die Sharks smag.
Oor die laaste paar seisoene was hulle ’n bra verbeeldinglose spul, wat dikwels staatgemaak het op stewige verdediging en stelskoppe om wedstryde te wen.
Dis egter nou tyd dat hulle genoeg drieë druk om wedstryde op dié wyse te wen.
In Patrick Lambie gaan hulle ’n ware generaal op losskakel hê, wat die leiding moet gee en die vonk verskaf.
Sou Frederic Michalak sy skakelmaat wees – en met opwindende aanvallers soos JP Pietersen (op buitesenter), asook Lwazi Mvovo, Odwa Ndungane, Sibusiso Sithole en Paul Jordaan aan die buitekant – hét die Sharks die skietgoed om die etiket van ’n vervelige span af te skud.
Hul groot bate in dié reeks kan hul diepte wees. Hulle het heelwat spelers wat in meer as een posisie kan speel en daardie veelsydigheid kan handig te pas kom wanneer onvermydelike beserings ’n tol eis.
Selfs met die vroeë afwesigheid van ysters soos Willem Alberts en Jean Deysel het die Sharks steeds ’n stewige lostrio, met Keegan Daniel, Jacques Botes, Marcell Coetzee, Pieter-Steph du Toit, Tera Mtembu en Ryan Kankowski wat almal tou staan vir ’n plek.
Die verlies van Beast Mtawarira is ’n gevoelige slag, hoewel Dale Chadwick meer as sy man sal kan staan in die nr. 1-trui.
Bismarck du Plessis sal saam met Lambie, Viljoen, JP Pietersen en Mvovo die sleutelspelers wees.
Dié kan die jaar wees waarin Bismarck sy stempel behóórlik afdruk.
Slot kan egter ’n leemte wees. Alistair Hargreaves, Ross Skeate, Anton Bresler en Steven Sykes is almal harde werkers, maar val nie in die superster-kategorie nie.