ALTUS MOMBERG IN KAAPSTADaltus.momberg@sport24.co.za
Paul Collingwood en Ryan ten Doeschate sal hul vet salaristjeks moet verdien as die groentjies in vanjaar se plaaslike T20-reeks, die Impi’s, in die wenkampie wil staan.
Dié span, die nuutste van sewe franchises in die T20-kompetisie, speel vandag in sy tweede wedstryd wanneer hy die Dolphins in Pietermaritzburg pak – nadat hy eergisteraand in Potchefstroom met 60 lopies deur die Lions afgeransel is.
Die Impi’s, wat bestaan uit sy twee oorsese hardebaarde en verskeie huursoldate wat nie een die beginspan van die ander ses franchises kon haal nie – is vir net 92 lopies uitgeknikker nadat hulle die Lions vroeër toegelaat het om 153/7 aan te teken.
Hoewel die nuweling heel mededingend was in die veld – met Craig Alexander, Richard Cameron en Siya Simetu wat almal beïndruk het – was dit met die kolf waar hy heeltemal uit sy diepte gelyk het.
Sy eerste vier kolwers – Dominic Hendricks, Adrian McLaren, Ten Doeschate en Collingwood – het sáám net 10 lopies van 36 balle aangeteken en ’n nagmerrie-reeks lê voor indien dié span nie reeds teen die Dolphins sy sokkies optrek nie.
; Terselfdertyd sê twee van die gunstelinge om vanjaar se blitstitel te wen, die Titans en die Knights, mekaar die stryd aan in Centurion.
Die Knights soek hul eerste oorwinning nadat hulle Vrydagaand in Kimberley effe ongelukkig was om die louere te deel met die verdedigende kampioen, die Cobras, in ’n wedstryd wat deur reën ontwrig is.
Die manne van Bloemfontein was goed op pad na ’n indrukwekkende sege toe eendeweer spel ná net 13 boulbeurte van die tweede beurt kortgeknip het. Mnre. Duckworth en Lewis het bepaal dat die twee spanne toe presies gelyk was en só het die wedstryd geëindig.
Die Cobras het vroeër ’n stewige 181/4 geslaan danksy goeie beurte deur Andrew Puttick (51), Stiaan van Zyl (48) en Owais Shah (45). Die Knights (op 119/5) was egter goed op koers toe die reën uitgesak het.
Van Zyl kan gerus dopgehou word. Dié jong Bolander word geruime tyd reeds as een van die belowendste jong eersterangse spelers in die land gesien, maar sy vermoë in die korter weergawes was nog altyd onder verdenking.
Hy kon nie die Kapenaars se groep vir dié seisoen se plaaslike Eendagbeker-reeks haal nie oor hy glo te stadig kolf, maar tog is hy in die Rosestad as mokerman ingespan.
Die blondekop-kolwer het nou 106 lopies van net 70 balle in sy eerste twee beurte van die reeks gemoker.
; Die Titans, die pas gekroonde SuperSport-kampioen, het vroeër ook hul aanslag op nóg silwerware begin met ’n maklike sege met 29 lopies oor die Warriors in Oos-Londen.