Mickey: Aussies net flou, nie vrot

Brisbane. – ’n Lang seisoen, eerder as swak spelpeil, is die rede waarom die Australiese krieketspan vandag hier aantree met die vooruitsig van ’n derde agtereenvolgende nederlaag in die driehoekige eendagreeks teen Indië en Sri Lanka.

Só het Mickey Arthur, die Australiese afrigter, gister aan cricinfo.com gesê nadat sy span slae gekry het in sy laaste twee wedstryde in dié reeks.

Die Aussies, wat vroeër skoonskip gemaak het in die toetsreeks teen Indië en die oorweldigende gunsteling was om ook die kitsreeks te beklink, is eergister met agt paaltjies afgeransel deur die Sri Lankane nadat hy skaars vier dae vroeër ook met vier paaltjies vasgeval het teen die Indiërs.

“Tamheid is beslis ’n groot faktor, want die ouens het baie krieket gespeel dié seisoen en die verwagtinge is boonop baie hoog,” het Arthur gesê.

“Die spelers begin nou duidelik swaarkry, maar ons het lankal geweet hoe die skedule gaan lyk en ons moet net toesien dat ons vars genoeg is om goed te speel môre (vandag).”

Arthur het erken dat Ricky Ponting – wie se plek in die span opnuut onder die vergrootglas is ná tellings van net 2, 1, 6 en 2 – op dun ys beweeg.

“Ricky lyk uitgebrand, maar ek wil hom graag steeds in ons span sien, omdat hy só ’n groot inspirasie is,” het hy gesê. – Sportredaksie