DIE
MOL
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se reuse-tameletjie wat betref watter plaaslike spanne in aanstaande jaar se Super-reeks moet speel, gee Die Mol slapelose nagte.
Soos sake staan, is die Suid- en Oos-Kaapse streekspan, die Southern Kings, die enigste franchise wie se 2013-deelname verseker is.
Dít beteken een van die sogenaamde Groot Vyf, die Sharks, Stormers, Bulls, Lions en Cheetahs, sal uitgeskop moet word indien Saru nie daarin slaag om Sanzar en Rupert Murdoch se News Corporation te oorreed om dié Suidelike Halfrond-reeks na sestien spanne te vergroot nie.
Nou kyk, almal weet die Kings se insluiting is gegrond op politieke redes. En slegs politieke redes.
Die spel in die land moet ontwikkel word en die Suid- en Oos-Kaap is as die streek geïdentifiseer waar rugby die meeste kan groei en uitgebrei word. Finish en klaar.
Nou ja, Die Mol hou die OP, SWD en Grens die laaste jare fyn dop omdat hul gedwonge Super-insluiting net ’n kwessie van tyd was.
Maar wat Die Mol in die Kings-streek sien, beloof net smart en krokodiltrane.
Dié streek is nie naastenby reg vir groot rugby nie – soos wat die uitslae in hul afgelope wedstryde teen die huidige Super-spanne getuig – en Die Mol sien nie juis dat daar vooruitgang gemaak word in die ontwikkeling van plaaslike talent nie. Dit lyk eerder na ’n versamelplek vir die ander unies se has beens.
Die Kings-breier Alan Solomons trek eenvoudig net al sy pelle nader om hom te kom help afrig of vir die span te speel – en Die Mol vrees hy en die president Cheeky is besig om vir hulle twee hul eie koninkrykie te bou waar hulle die kitaar slaan en Saru hiet en gebied om geld te gee om die streek “te ontwikkel”.
Is daar nêrens ’n afrigter van kleur wat Solly se werk kan doen nie?
Wat van byvoorbeeld onse Snorre, wat nou werkloos is? Saru het mos reeds miljoene in hom belê en as hy goed genoeg was om die Bokke te slyp, moet hy mos ook goed genoeg wees om die Kings te kan brei?
Maar dan sit Cheeky en Snorre mos nie (meer) langs dieselfde vuur nie – en is die kanse seker skraal dat hulle ter wille van rugby en die spel se ontwikkeling en voortbestaan sal kan saamwerk.
Ai, onse Piesangrepubliek het darem maar net te veel issues wat skynbaar nie oorbrug kan word nie.
Die Mol het vandag darem goeie nuus ook. Vir al die Cheetahs minstens.
Hy was die afgelope week in Bloemfontein vir die Cheetahs se Super-bekendstelling.
En was dit nie ’n Super-paartie nie. Sjoe, hulle slaap min daar in Sentraal-Suid-Afrika.
Ná tientalle glasies druiwesap saam met Naka, Os, Sakkie en sommige borge en bestuurslede van die Cheetahs, het Die Mol agtergekom die Vrystaters is eintlik goeie geeste wat plat op die aarde is en die spel lief het.
Daarom kon Die Mol nie anders as om saam met hulle te jubel toe PVM se grootbaas, vrind Alfred, Donderdagaand nog R10 miljoen aan die Cheetahs geskenk het omdat hulle so ’n aangename klomp is.
En ná sy blitsbesoek aan die woelige Rosestad het Die Mol besluit om voortaan saam met vrind Alfred te help om die bedreigde voortbestaan van die Cheetahs-franchise te verseker.
Harold, dít gaan glad nie maklik wees nie, maar ontspan, Die Mol het ’n plan.
Vreugde!