J.J. Harmse in Pretoria jharmse@sport24.co.za
Hulle is tans in die minderheid, maar as Duitser Bosman en sy vaardige medewerkers en borge van die Varsitybeker hul sin kry, gaan spelers soos die Maties-losskakel, André Kemp, nie meer uitsonderings wees wanneer die agt beker-spanne hul spanlyste uitreik nie.
Sien, Kemp is nie net waardevol vir die Maroentruie oor sy kommerkoel balverspreiding en temperament onder druk nie – spelers soos dié een met sy BRek (Hons)-graad en ’n eerste raadseksamen reeds agter die rug, is waarnatoe die reeks met ’n groot glimlag op pad is.
Tuks se dr. Okkie Kruger en Ikeys se Ntsolo Setlaba (BA in sosiale studies met ekonomie en politieke wetenskap) is ander voorbeelde van spelers wat die volgende twee maande (vir hulle) net die lekkerste ding op aarde kan doen – om die spel met oorgawe en genot te speel, want die harde werk op akademiese gebied ís gedoen.
Kemp-hulle draf môreaand onoorwonne uit in die Danie Craven-stadion, maar teen ’n Shimla-span wat die hele week op die Bloemfontein-kampus moes rondsluip ná hul rooigesig-nederlaag teen die Madibas.
Daar is groterige spieëls in die Craven-stadion se kleedkamers en Jaco Swanepoel sal seker maak elkeen van die besoekers kyk hulself stip in die oë voor die opdrafslag.
Ná twee nederlae het Ikeys die kans om uiteindelik predikaat te kry wanneer hulle die TUT in Pretoria pak.
Die Tigers draf as oorweldigende gunstelinge op, maar die TUT het die vermoë om daardie één grote seer te maak.
Verlede jaar was dit Tukkies wat moes deurloop en met Hansie Graaff (losskakel) op die oomblik subliem en die verdedigende kampioene kwesbaar op verdediging, kan dinge rof raak in Pretoria-Wes.
Die Madibas van Port Elizabeth gaan stert in die lug wees ná hul sege in Bloemfontein ’n week gelede, maar die UJ het self ’n goeie sege agter die blad ná hulle die Ikeys afgestof het.
Dié stryd skuins oorkant die Westdene-dam gaan bitter interessant raak.
Volgens NMMU se afrigter, Brent Janse van Rensburg, glo sy spelers nou in hulself.
“As ons dit weg van die huis af teen Shimlas kan doen, kan ons dit netsowel teen die UJ in Johannesburg doen,” redeneer hy.
Die wedstryd tussen Tuks en Puk hier in die “Pienk-stad”, behoort die hoogtepunt van môre se stryde op te lewer.
Kruger-hulle is vuurwarm en Hannes Esterhuizen sal sy spelers sê dat die beste doepa vir ’n nederlaag op jou tuisveld ’n weg-sege in jou volgende wedstryd is.
Die Tuks-enjin loop egter op al sy “sous” en gaan nie sommer geklop word nie.