UWK bal vuis met pak slae vir Impi’s

Daar was Maandag geen verrassings in die Varsityskild-reeks toe die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) se Ixias onderskeidelik met die UKZN Impi’s en Fort Hare klaargespeel het nie.

Tog het die UWK die oë laat rek met die wyse waarop hulle die Impi’s met ’n groot pak slae (10-61) huis toe gestuur het.

UWK kom môre weer op sy tuisveld teen die Ixias te staan en dié wedstryd kan ’n groot invloed op die uiteindelike puntestand in die reeks hê.

Ixias is wel die voorloper ná sy sege van 34-19 oor ’n moedige Fort Hare-span Maandag in Bloemfontein, maar moes tot teen die einde vir ’n bonuspunt vir vier drieë veg toe die slot Gavin Annandale gaan druk het.

Die Ixias sal hul spelpeil wil lig teen UWK.

Intussen staan Wits gereed om Ixias vir ’n tweede keer vanjaar as voorloper verby te steek indien die Vrystaters in die Kaap sou verloor.

Wits is uitgerus ná sy loslootjie verlede week en kom in Pietermaritzburg teen die Impi’s te staan, wat tans na ’n mak teenstander lyk.

Wits moet wel die haastige vleuel, Nkululeko Gamede, vervang nadat hy sy hand in hul laaste wedstryd gebreek het. Hy gaan vir ’n paar maande buite aksie wees.

; Môre se wedstryde:

UKZN Impi’s t Wits, Peter Booysen-park, Pietermaritzburg, 19:00

UWK t SUT Ixias, UWK-sportsta­dion, Kaapstad, 19:00

Jong Turke (o.20-reeks)

15:20:UJ t NMMU; 17:00: TUT t Ikeys.