Die Varsitybeker gooi vanjaar weer sy gewig in agter die stryd teen geweld teen vroue, met ’n nuwe projek, Hou die Geweld op die Veld.
Rugbyliefhebbers kan dié veldtog steun deur per SMS of op die Varsitybeker-webblad te bie op ’n getekende pienk rugbybal, wat tydens elke televisiewedstryd opgeveil sal word.
Elk van die deelnemende universiteite ondersteun ’n projek as deel van die veldtog, en die wenner van die bal kan self besluit aan watter universiteit se projek die geld geskenk moet word.
Dis ook die wenner se keuse wie die rugbybal moet teken.
Die minimum bedrag wat gebie kan word, is R1 000.
Twee balle word elke Maandag tydens elk van die TV-wedstryde opgeveil.
Die hoogste bieër aan die einde van elke eerste helfte wen die bod, en die wenner sal tydens die tweede strategiese rustyd aangekondig word.
Om te bie, stuur ’n SMS met die woorde Pink, jou bod, jou naam en jou verkose universiteit na 32541. SMS’e kos R1.
Kry nog inligting op die Fanzone van die webblad www.varsitycup.co.za.
; Verlede week se pienk rugbyballe is gekoop deur Wynand van Niekerk en Mark Herman.
Van Niekerk het R2 200 gebie en gevra dat sy geld na Maties gaan, terwyl Herman R1 650 gebie het, ten bate van Tuks.