Werkywer dié Lions se mantra

‘Onthou, Super-rugby is nie die Curriebeker-reeks nie.’

Dit was maar net vanselfsprekend dat dié frase ná die Goue Leeus se Curriebeker-segetog herhaaldelik aan die Lions voorgehou sou word met die aanvang van die 2012-seisoen.

Maar so irriterend as wat die woorde mag wees vir diegene wat die Lions op die hart dra, so waar is dit.

Daarom het die Lions-afrigter, John Mitchell, nie die Curriebeker-oorwinning as ’n eindbestemming beskou nie.

Dit was eerder ’n eerste proesel sukses vir ’n span met veel groter doelwitte. Hul voorseisoense program was uitmergelend en ’n Curriebeker-trofee word nie as ’n rede voorgehou waarom dié span nie nóg groter, vinniger, sterker en skerper daarna moes wees nie.

Daar is nie in groot aanwinste belê nie. In plaas daarvan was Mitchell verlig toe die yslike spul oortollige gekontrakteerdes die deur gewys is, met net die bestes wat bly.

Dít moes lankal gebeur het.

Enkele jong spelers is wel na Johannesburg gelok met Callie Visagie (haker), Hendrik Roodt (slot) en Ross Cronjé (skrumskakel) die vernaamstes.

Tog was dit nie bekende name wat die Leeus tot die Curriebeker-titel gelei het nie, maar werketiek en spaneenheid.

Dit is dieselfde eienskappe waaraan die Lions oor die vakansie verder geskaaf het – en wat van hulle ’n gevaarlike span in 2012 gaan maak.

Natuurlik was daar vanjaar reeds die gebruiklike pandemonium weg van die speelveld oor die Leeus-rugbyunie se administrasie.

Maar met die span self skort daar weinig en terwyl die krediteurs na die GLRU gehap het, was Mitchell en sy Kiwi-kamerade in die afrigtingspan besig om verder aan iets merkwaardigs te skaaf.

Hul span gaan met struktuur speel, maar teen ’n vinnige tempo en gaan boonop die wenkbroue laat lig met hul verbeterde vertonings en avontuurlustigheid. Verdediging is ook al amper ’n sterkpunt, iets wat lanklaas van die Lions gesê is.

Daarbenewens is die verwagtinge nie hemelhoog nie en die kanse baie goed dat die Lions op verlede jaar se voorlaaste plek op die algehele puntelys sal verbeter.

Kan hulle egter heelwat beter vaar? Is hulle dalk selfs ’n gevaarlike buiteperd?

Wel, in Elton Jantjies en Jaco Taute betree die Lions die reeks met twee van die mees opwindende jong agterspelers.

Hul sleutelspeler is waarskynlik die onderskatte werkesel-flank, Derick Minnie, ’n vurige jongeling wat vir niemand terugstaan nie.

Mitchell noem sy span ’n “volwasse eenheid”.

Dit is ’n span op die rand van iets gróóts en 2012 is sy kans om dit te bewys.