MARIZANNE KOK IN JOHANNESBURGmarizanne.kok@sport24.co.za
Dit was in ’n Nascar-renmotor, laat verlede jaar, dat Kimi Räikkönen besef het hoeveel hy werklik verlang na die warrelwind-wêreld van Formule Een.
Ná twee so-so seisoene in tydrenne was dit tyd vir die vlieënde Fin om terug te keer na die arena waar hy sy grootste sukses behaal het – iets wat vir hom duidelik geword het terwyl hy weer teen ander jaers (eerder as die horlosie) te staan gekom het.
“Ek het daardie direkte geveg met teenstanders – die wiel-teen-wiel-stryd – geniet en besef ek mis dit,” het Räikkönen die afgelope week aan F1.comgesê.
“In tydrenne kom jy ook te staan teen mense, maar nie fisiek nie, en dit was die fisieke aspek wat ek die meeste gemis het. Ná daardie besef het ek met my bestuurders gepraat en het hulle die bal aan die rol gekry.
“Dis nie dat ek moeg geword het vir tydrenne nie – as ek kon, sou ek albei gedoen het – maar as jy wil jaag en die opsie het, móét Formule Een jou eerste keuse wees.”
Dié woorde is musiek in die ore van Räikkönen se derduisende bewonderaars.
Die Ysman, wat die kampioenskap in 2007 in ’n McLaren gewen het, se terugkeer beteken dat daar vanjaar ses wêreldkampioene op die wegspringrooster sal wees – meer as ooit tevore.
In teorie beteken dit meer opwinding, met ’n halfdosyn deelnemers wat wéét hoe om ’n hele seisoen lank op hul allerbeste te wees.
In Räikkönen kry Formule Een boonop een van sy mees kleurvolle karakters met emmersvol talent terug.
Maar terwyl kritici saamstem dat hy steeds het wat dit verg om wéér die F1-koning te word, het vrae oor sy motivering, wilskrag en fiksheid die afgelope paar weke gereeld opgeduik.
“Daar was nog altyd praatjies oor my motivering, veral van mense wat my nie ken nie en geen idee het hóé gemotiveerd ek is nie,” het hy aan motorsport.com gesê.
“As ek nie gemotiveerd was nie, sou ek nie hier gewees het nie. Dit was nog nooit ’n kwessie nie.”
Kommer oor sy fiksheid het ook blitsvinnig gewyk toe Räikkönen altesame 117 rondtes afgelê het in net twee toetsdae – gelykstaande aan byna twee Grands Prix.
“Nee wat, daar was geen probleme nie. Dis hoekom ons voor die tyd oefen,” het hy gesê.
En dan is daar die ander groot besprekingspunt oor Räikkönen se terugkeer: hoe goed sal die Lotus-motor waarin hy vanjaar sy stempel moet afdruk, wees?
Hy stap immers nou in by ’n span wat hulself onder druk plaas om een van die pasaangeërs te wees en sodoende te vergoed vir ’n rampspoedige 2011.
Die Fin was opgewonde ná die toetssessies in Jerez, Spanje: “Ek dink ons het ’n goeie motor en ek voel positief ná die eerste toetse,” het hy gesê – en dit sommer ook duidelik gemaak dat hy meer op homself konsentreer as op sy stel wiele.
“Ek dink mense verwag groot dinge van my, maar solank ek 100% gee en tevrede voel met hoe ek bestuur, sal ek gelukkig wees.
“As ek dít alles vermag, maar dis steeds nie goed genoeg nie, dan is dit nou maar so.”