Pieter Jordaan in Johannesburgpieter.jordaan@sport24.co.za
Die gebruiklike Boeregeur aan die Sesnasies-rugbyreeks is vanjaar selfs sterker.
Engeland se Brad Barritt en Italië se Tobie Botes het albei pas hul toetsbuigings vir hul aangenome lande gemaak, tog was dit Skotland se nuwe jong agtsteman, David Denton, wat die tonge behoorlik laat klap het in die eerste twee rondes van dié reeks.
Denton, ’n oud-leerling van Kingswood-kollege in Grahamstad, is begin vandeesmaand aangewys as die speler van die wedstryd in sy span se nederlaag met 6-13 teen Engeland in Edinburg – skaars ’n dag voor sy 22ste verjaardag.
Dié sterk baldraer, wat in Zimbabwe gebore en wie se ma van Skotse afkoms is, is ná skool reguit Edinburg toe om te studeer.
Hy was ook een van die uitblinkers in die Skotte se daaropvolgende nederlaag teen Wallis en word reeds met die legendariese John Jeffrey vergelyk – dít in net sy tweede seisoen as beroepspeler.
; Barritt (25) het tussen 2006 en 2008 vir die Sharks geskitter en was naby aan ’n Bok-plek toe hy hom drie jaar gelede by die Engelse klubspan Saracens aangesluit het.
Hoewel dié donkerkop-senter sedertdien in twee toetse stil was op die aanval, was hy rateltaai op die verdediging.
; Barritt se Engelse spanmaat Mouritz Botha moes glo hoor dat hy – gemeet aan Suid-Afrikaanse standaarde – “té lig is vir groot rugby” en het gevolglik besluit om sy heil oorsee te gaan opsoek.
Dié 30-jarige slot van Calvinia het eers vir beskeie klubspanne uitgedraf en verskeie “los werkies” gedoen om aan die lewe te bly – voordat Saracens hom ook raakgesien het.
; Nóg ’n Boere-Bleekbeen is die Durbaniet Matt Stevens, wat sy loopbaan as 21-jarige by Bath begin het.
Agt jaar later het hy reeds 41 keer vir die Rose uitgedraf en is hy tans die mees ervare speler in die afrigter Stuart Lancaster se Sesnasies-groep.
; Botes, Quinton Geldenhuys en Corniel van Zyl het almal reeds die Azzuri in vanjaar se reeks verteenwoordig.
Geldenhuys (30), wat in Klerksdorp gebore is, het homself in 27 toetse reeds onderskei as die Italianers se harde man in die enjinkamer; terwyl Van Zyl – ’n voormalige Cheetahs-slot – dié span in verlede jaar se Wêreldbekertoernooi verteenwoordig het.
Botes, oorspronklik ’n Bolander, het heelwat vonk verskaf as die plaasvervanger in sy eerste toets teen Frankryk, maar sy stelskopwerk het hom lelik in die steek gelaat in Italië se daaropvolgende nederlaag teen Engeland in Rome.