I fink u freeky, maar ek bly ­lief vir jou

Ek ken nie vir Yo-Landi Vi$$er van Die Antwoord nie, maar ek ken haar ouers besonder goed.

Toe ek ’n jaar of wat gelede na haar dominee-pa, dr. Ben du Toit, se sestigste verjaardagviering genooi is, het ek gehoop om ook Die Antwoord – wat teen daardie tyd reeds die wêreld aan die praat gehad het – te ontmoet.

Feitlik almal wat vir Ben en sy vrou, Elna, ken, het toe reeds geweet die omstrede, maar wêreldbekende Yo-Landi Vi$$er (haar regte naam is Anri du ­Toit) is hul dogter. Dit was immers nie iets waaroor hulle skaam was of ooit probeer wegsteek het nie.

Soos die meeste ander gesinne plaas hulle egter ’n hoë premie op hul privaatheid en die algemene publiek was salig onbewus dat Yo-Landi se pa ’n bekende teoloog is en boonop ’n voormalige wenner van die gesogte Andrew Murray-prys vir teologiese boeke.

Maar soos vele van hul vriende is ek seker dat Ben en Elna besef het dit is net ’n kwessie van tyd voordat hul stil pastorielewe ook in die media-kollig sou beland. Met Rapport se berig verlede week het die onafwendbare nou gebeur.

Tot my teleurstelling kon Yo-Landi nie daardie aand haar pa se verjaardagpartytjie bywoon nie omdat sy en die groep besig was met ’n optrede elders. (Miskien was van die ander gaste, veral ’n paar vername kerkleiers, heimlik verlig. Sê nou net hulle het aangebied om vir die dominee ’n alternatiewe weergawe van Happy Birthday te sing!)

Wat ek egter altyd van daardie aand sal onthou, is die briefie van gelukwensing van Yo-Landi aan haar pa wat haar ma namens haar voorgelees het.

Sy het haar pa roerend bedank vir alles wat hy deur sy lewe vir haar en haar broer beteken het. Dit was ’n boodskap wat gestraal het van liefde en respek vir ’n pa wat sy kinders verstaan en deur dik en dun bystaan en ligjare verwyder van die zef-verhoogbeeld waarmee Die Antwoord internasionale roem ingepalm het. Wat ’n mens net weer laat besef daar is ’n verskil tussen die skurwe en briljante zef-rolle wat Die Antwoord vertolk en die individue ágter die maskers.

Soos enige wonderlike pa sou doen, het Ben du Toit daardie aand, net soos in sy kommentaar aan Rapport verlede naweek, onbeskroomd sy liefde vir sy dogter voor al sy gaste verklaar.

Dit het ’n mens weer onder die indruk gebring dat daar min dinge in die lewe so waardevol is soos ouers wat hul reg gebruik om hul kinders onvoorwaardelik te aanvaar vir wie hulle is. Wat hulle liefhet, beskerm en verdedig omdat jy hulle beter ken as enigiemand anders – ongeag wat die wêreld sê.

Skaars was die ink waarmee Rapport verlede week gedruk is droog, of die spreekwoordelike klippe het op die Du Toits se pastoriedak begin neerreën.

In briewe en kommentaar op webblaaie word hulle gekruisig vir die blote feit dat hulle hul kinders liefhet – en so sê.

Dit is natuurlik nie die eerste keer dat so iets gebeur nie, veral nie met predikantouers nie.

Hoe hoër die bome waarna daar gemik word, hoe lekkerder (of makliker?) is dit natuurlik om daarheen te korrel. Byna asof mense op dié manier hul eie verleenthede probeer verdoesel deur ander, van wie hulle niks weet nie, te verguis.

’n Paar jaar gelede was die ouers van Fokofpolisiekar se hoofsanger, Francois van Coke, in die spervuur nadat dit bekend geword het hy het in ’n pastorie grootgeword.

Die gewilde dr. Theo Badenhorst en sy vrou, Marlene, van die La Rochelle-gemeente in Bellville moes behoorlik bontstaan nadat “onthul” is dat hulle die ouers is van een van Afrikaans se eerste punk-rockers.

Theo en Marlene is later Japan toe om te gaan sendingwerk doen. Ek kan nie sê of die onaangename publisiteit die rede was vir hul besluit om weg te gaan nie, maar mens kan dink dit kon sekerlik ’n bydraende faktor gewees het.

Frits en Henda Gaum is ewe genadeloos in die openbaar geroskam vir die lojale en onvoorwaardelike steun aan hul gay seun, Laurie (wat self ’n predikant is).

In die aangesig van hierdie prysenswaardige voorbeelde van onvoorwaardelike ouerliefde is die platvloerse wyse waarop die klipgooiers en die heksejagters hulself gedra soveel meer onsmaaklik.

Baie van hulle kruip agter skuilname weg. So skryf iemand wat homself Adoons noem op Rapport se webwerf: “Nou verstaan ek beter hoekom kerke leegloop. So ’n ou stuk drek moet tog vir my wil preek. Jou ma se m%$#.”

Sulke reaksies op die “onderste helfte” van veral Afrikaanse koerante se webblaaie is al so voorspelbaar dit ontstel amper nie meer nie.

Dit is natuurlik maklik om agter ’n skuilnaam weg te kruip en nog makliker om kommentaar te lewer op die integriteit van mense wat jy van geen adamskant af ken nie.

Maar dit raak tog ontstellend as ’n medepredikant – en dit onder sy eie naam – ook tot hierdie boomskraap-debat toetree.

So skryf ds. Stefaan de Jager van Humansdorp op Rapport se webblad dat dit vir hom lyk of ’n bose mag van Ben en Elna de Toit se dogter en skoonseun besit geneem het: “Lyk my nie of dit haar pa die duiwel in maak nie, want hy glo mos nie in die duiwel nie!” borduur dié dominee voort op die tema.

(Dit is dieselfde man wat ’n paar weke tevore, op ’n ander koerant se webblad, verklaar het hy stem saam met die Zoeloe-koning se uitlating dat gay mense vrot is. ’n Mens moet dus seker nie te verbaas wees oor sy uitsprake oor ouerliefde nie.)

Ekself verkies om te konsentreer op die ander kant van hierdie munt: Die wonderlike evangeliese voorbeeld van onvoorwaardelike ouerliefde wat Ben en Elna, Frits en Henda en Theo en Marlene aan ons voorhou. Ouers van “alternatiewe” of gay kinders kan baie daaruit leer.

Yo-Landi, Laurie en Francois is nie freaks omdat hulle “anders” is nie. Ja, hulle is miskien nie jou idee van ’n voorbeeldige pastoriekind nie en jy is dalk nie ’n aanhanger van hul musiek of kunsvorm nie, maar beteken dit hulle is van die duiwel besete en hul ouers demonies?

Miskien moet diegene wat so rojaal kommentaar lewer en vingerswaaiend op ander mense se ouerskap reageer ’n slag nadink oor hul eie eendimensionaliteit.

En ’n mens wonder hoeveel van hierdie klipgooiers het self groen koring op die land? Hoe lyk húlle verhouding met hul kinders?

As ek moet kies hoe die verhouding met my kinders moet wees, kies ek liewer Ben du Toit se raad toe hy onlangs geskryf het: “Ons maak almal foute, maar as dit dan moet, fouteer na die liefde se kant toe.” Jean Oosthuizen is nuusredakteur van Kerkbode.