POLLUX
Blou Bulle of Pienk Grille?
Noudat die Bulls soms in pienk gaan pronk, kom daar nóg veranderinge, verneem Pollux.
1. ’n Seisoenkaartjiehouer gaan ’n gratis grimeersessie kry tydens die rustyd van elke wedstryd.
2. Die biertent gaan bier vervang deur ’n verskeidenheid vrugtesappe.
3. Die dansende doedies word vervang deur ’n optog deur Franse poedels.
4. Die speler van die wedstryd kry g’n trofee meer nie, maar word ’n intekenaar van die tydskrif House & Home.
5. Die stadion is nie meer die “Bull Ring” nie, maar die “Fairy Garden”.
6. Liefling is steeds die nie-amptelike lied.
7. Spelers gaan voortaan nie meer sin bin toe nie, maar na die temper tantrum tank.
Giggelende LP’s
Mnre. Mluleki George (Cope-LP) en Velaphi Ndlovu (IVP-LP) is nie een vandag se kind nie, maar Dinsdag het hulle amper in die spreekwoordelike hoekie gaan sit. Dié twee het soos bakvissies gegiggel toe hulle hoor hoe “dom” die nasionale polisiebase is.
Dié betaal glo astronomiese bedrae vir kantoorruimte in godverlate plekke en kom dit nie eens agter nie! Me. Sindi Chikunga, ANC-voorsitter van die komitee, moes hulle later met die (einste) polisie dreig.
“Hulle is hier. Moet ek hulle vra om julle uit te gooi?” het sy geraas. Pollux se parlementêre impimpi vertel ook dat me. Dianne Kohler Barnard, DA-LP (foto), wat die twee se manewales goed ken, voorgestel het hulle word voortaan van mekaar geskei.
Sjym, dis wreed.
Ineptokrasie
Pollux se raadgewers sê Suid-Afrika is eerder ’n ineptokrasie as ’n demokrasie: ’n Regeringstelsel waarin die mins bevoegde leiers gekies word deur diegene wat die minste in staat is om te presteer. Dis ’n stelsel waarin dié lede van die samelewing met die geringste kans op sukses of om hulself te onderhou, vergoed word met goedere en dienste gefinansier met die rykdom gekonfiskeer van ’n kwynende getal vervaardigers.
Klink nogal in die kol.
Wátse ballie?
Ene Blip skryf op Rapport se webblad:
“Dis die ouballie-verkramptes wat die hardste neul en kla en brom en dis einste hulle wat tegelykertyd die minste kans het om te emigreer. Hulle is te oud, te siek, te vet, te arm en te onopgevoed om amptelik aanvaar te word deur ’n ander land as ’n immigrant.”
Gramsci antwoord hom só: “Dus beskou jy jouself as jonk, gesond, skraal, ryk en opgevoed? Want jyself het mos die land verlaat.”
Chris reageer: “Ek weet nie wat Blip as ‘ouballie’ beskou nie. Ek is vinnig op pad na 62 en het vir ’n hele klompie jaar byna uitsluitlik in die buiteland gewerk as konsultant.”
Blip is nie op sy bek geval nie:
“62 is vir seker ouballie. Oor 35 is ouballie-in-wording. Onder 35 is jongballie.”
Pollux is ’n ouerige jongballie.
Blou Bulle
Pollux verstaan die Blou Bulle kry glo ’n nuwe afrigter. Van Japan.
Sy naam? Win Soon.
Gradering
Die briefskrywer Gert Cilliers sê hy verneem die graderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P) het die VSA se skuldgradering aangepas.
Glo van trippel A na dubbel K middel A.
Seuntjie wil pappa speel
Die seuntjie vra sy ma: “Mamma, kan ons ’n bietjie speel?”
Sy ma vra wat hy wil speel en hy sê: “Kan ons asseblief speel ek is Pappa?”
Sy vra, “Nou hoekom?” Maar hy soebat: “Ag, asseblief, Mamma. Kan ons speel ek is vir ’n rukkie Pappa?” Naderhand gee die ma toe en sê: “Nou goed dan maar.”
Die seuntjie vat haar hand en loop die gang af tot in die kamer. Hy beveel sy ma om haar skoene uit te trek en op die bed te gaan lê. Die ma se senuwees wil-wil ingee en sy besef hier is nou pêre. Die seuntjie trek sy skoene ook uit en gaan lê op sy pa se plek.
Sy ma vra senuweeagtig, “Nou, wat nou?”
Hy antwoord: “Ag vrou, kan ons nie maar vir die laaitie ’n BMX-fiets koop nie, man?”